Foto’s: AfriForum, bekendes stap vir “eerlikheid oor geskiedenis”

ʼn Afvaardiging van die burgerregte organisasie AfriForum en verskeie Afrikaanse kunstenaars soos Steve Hofmeyr het Dinsdag na talle ambassades asook die Uniegebou gestap om “standpunt teen die eensydige oorvertelling van die geskiedenis in te neem.”

Adam Tas, Gerrie Pretorius en Andries Hendrik Potgieter was van die ander bekendes wat ook aan die staptog deelgeneem het terwyl lede van die publiek deur middel van sosiale media, Facebook en Twitter, ook aan die “staptog” deelgeneem het. Daar Engelse eksemplare van die boek ‘Ons was daar’ sowel as memorandums aan die onderskeie verteenwoordigers van Kuba, Rusland, Angola en die VSA se ambassades gegee. Die staptog het by die Uniegebou geëindig waar daar ook ‘n memorandum aan die regering se woordvoerder, Jimmy Manyi, oorhandig is. Die kunstenaars, media en AfriForum se verteenwoordigers het deurentyds op Facebook en Twitter hulle vordering aangekondig en lede van die publiek aangemoedig om ook oor die onderwerp #onswasdaar te Facebook en Twiet. Dit het tot gevolg gehad dat die onderwerp in Suid-Afrika “getrend” het. Trending is ’n manier om vas te stel oor watter onderwerpe daar op ’n gegewe tydstip en in ’n spesifieke geografiese gebied die meeste op Twitter gesels word.

AfriForum sê dié veldtog “teen die eensydige oorvertelling van die geskiedenis is van stapel gestuur nadat AfriForum gedurende die afgelope paar maande verskeie klagtes van die publiek ontvang het met voorbeelde van waar die geskiedenis vir die bereiking van politieke doelwitte verdraai is.” Die organisasie sê opmerkings wat president Jacob Zuma tydens die ANC se eeufeesviering oor die geskiedenis van Cuito Cuanavale gemaak het, word as aanknopingspunt gebruik.

[nggallery id=28]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan van Heerden ·

Dit is net bitter jammer dat die media so min aandag hieraan gegee het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.