Foto’s: Akademia vier 10de verjaarsdag

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het die koek ter viering van Akademia se verjaarsdag gesny. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout)

Akademia, die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling, het op 3 Maart amptelik sy tiende bestaansjaar gevier.

Dié mylpaal is Donderdag deur personeel, studente en ander gaste by [email protected], voorheen die bekende Leriba Lodge, in Pretoria gevier met koek, aktiwiteite en ʼn vertoning deur Riaan Benadé.

Sedert 2010 word daar aan die droom om ʼn wêreldklas-universiteit te bou wat hoop skep vir die Afrikaanse gemeenskap en nageslagte lewe gegee.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, sê hulle droom vir die toekoms bou voort op die afgelope 10 jaar se doelwitte.

“As ʼn mens praat oor hoe die droom lyk, kan jy maklik die fout maak om net oor die fisieke goed soos infrastruktuur, personeel en studente, te praat. Die groot droom bly steeds om dit wat ons visie is, te verwesenlik. Dit is om die denke sowel as die harte te vorm vir ʼn betekenisvolle lewe. Hoe meer ons dit regkry, hoe meer word die droom verwesenlik,” sê Visser.

Op die vraag of hy tevrede is met Akademia se groei, antwoord Visser: “Dit is ʼn moeilike vraag. Aan die een kant sou ek bly gewees het as ons meer kwalifikasies kon aanbied. Maar dit gesê, is daar ook ʼn ding soos om te vinnig te groei.”

Volgens Visser stel vinnige groei hoë eise aan die instelling, asook aan die vestiging van ʼn gesonde kultuur en studentelewe.

“As ʼn mens terugkyk, dan dink ek ons groei teen die regte pas. ʼn Mens moenie voel dat jy al meer moes vermag het nie, want jy weet nie watter uitdagings daarmee sou saamkom nie,” sê hy.

Visser hoop dat Akademia in die volgende 10 jaar maklik meer kwalifikasies geakkrediteer kry. Hy meen dat Akademia nou gereed is om uit te brei.

As Afrikaanse private hoëronderwysinstelling beywer Akademia hom vir moedertaalonderrig. Visser sê hy betwyfel nie dat dié instelling se studente slaggereed is vir die werkplek nie.

“Ek het twyfel sterk of die feit dat Akademia se studente in Afrikaans studeer, hulle gaan terughou of beperk om suksesvol in ʼn Engelse wêreld te wees. Trouens, ek dink omdat hulle in hulle moedertaal studeer, is die diepte van hulle akademiese ontwikkeling beter,” sê hy.

Op 3 Maart 2012 het Akademia 40 studente vir hul eerste klasse in vier verskillende programme verwelkom. Vanjaar spog dié instelling met bykans 2 500 studente wat gehalte-onderrig in vyf verskillende fakulteite en 17 studierigtings ontvang.

Die instelling beplan om deur die loop van die jaar tien groot momente, ter viering van Akademia se verjaarsdag, van stapel te stuur. Een hiervan is die publisering van ʼn gedenkboek, geskryf deur Ilze Nieuwoudt, met staaltjies en gebeure oor Akademia oor die jare. ʼn Rusbankgesprekreeks met tien episodes, Akademia-pioniers vertel, word ook bekendgestel. Die radioaanbieder Esmarie Yssel is die aanbieder van dié reeks. Kobus Wiese verpak ʼn spesiale Akademia-koffiebrandstel, en ʼn spesiale wyn word vir die instelling verpak. Die koffie en wyn sal later vanjaar by die aanlyn Akademia-winkel te koop wees.

Indien jy wil help bou, kan jy op verskeie maniere betrokke raak. Om ʼn finansiële bydrae (per gereelde debietorder, eenmalig of andersins) tot Akademia te lewer, stuur ʼn e-pos na [email protected]. Vir meer inligting oor Akademia se feesviering, besoek 10jaar.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
JM

Baie geluk!! Mag Akademia van krag tot krag gaan!