Foto’s: Bejaarde egpaar sterf in Sondela-brand

ʼn Bejaarde egpaar is dood nadat hulle Saterdag deur die vlamme verswelg is tydens die verwoestende veldbrand by Sondela-natuurreservaat buite Warmbad in Limpopo.

Ian Jansen van Rensburg, besturende direkteur van Sondela, sê hulle harte gaan uit aan die familie van die bejaarde egpaar. “ Ons kan nie besonderhede oor die gaste bekendmaak nie aangesien hulle familie deur die polisie gekontak sal word. Ons sal die gaste wat hulle motors verloor het bystaan om by hulle huise te kom en die ondersoeke vandag afhandel. Dit was ʼn tragedie…om geboue oor te bou is niks….lewens kan egter nie vervang word nie en is ons is platgeslaan oor die verlies van lewens.”

Die veldbrande het glo vroeër Saterdagmiddag aan die chalets se kant ontstaan en vinnig ʼn pad van verwoesting gesaai. Neville Haarhoff, wat by Sondela betrokke is, het op Facebook gesê dat 66 chalets afgebrand het. “Gelukkig het ons vinnig besluit om te ontruim en die gaste gelukkig mooi saam gewerk.” Ronel Rheeder Oosthuysen het op Facebook gesê dat sy en haar gesin in een van die chalets vasgekeer was. “Dit was traumaties om vir meer as ‘n halfuur vasgekeer te gewees het, maar ons is veilig terug in Pretoria.” ʼn 54-jarige man is met ʼn Helivac-helikopter na die hospitaal geneem vir brandwonde en rookinaseming. Maroela Media verstaan dat minstens 30 mense op die toneel vir onder meer brandwonde en rookinaseming behandel is.

Jansen van Rensburg het weereens sy dank aan die gemeenskap uitgespreek met hul hulp in die bestryding van die brand en vriende in die dorp wat met kos en akkommodasie gehelp het. “Aan my personeel, ek is so trots op julle. Sonder julle beslissende aksies sou daar groter lewensverlies gewees het. Die Working on Fire-spanne was fantasties.”

[nggallery id=73]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hanna ·

Erg ne? Ettienne hulle was ook daar maar het niks verloor nie. Hulle chalet het ook nie gebrand nie

Louise Joubert ·

Dit is ‘n tragedie. Ons harte gaan uit vir die egpaar se naasbestaandes. Dankie aan die wonderlike personeel by Sondela.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.