Foto’s: Bekendes skud hul vere reg vir Klein Karoo-fliek

Sien meer foto’s van die geleentheid en die lokprent-video onderaan die artikel.

Ligte, kamera, aksie! Of eerder drama, liefde en humor – die fliek Klein Karoo voldoen aan al dié aspekte.

Maroela Media was Donderdagaand op die rooitapyt tydens die film se première in Johannesburg. Talle bekendes het die spoggerige geleentheid bygewoon en, te oordeel aan al die komplimente en glimlagte, was die gaste nie teleurgestel nie.

Die rolprent spog met nuwe en vars talent en handel oor ‘n jong onderwyseres van Oudtshoorn, Cybil Ferreira (Donnalee Roberts), wat enigiets in haar vermoë sal doen om te verseker dat haar projek by die plaasskooltjie, Kalfieskraal sal slaag. Sy droom daaroor om ’n sentrum te vestig waar die omgewing se kinders, wat onder die invloed van alkoholisme in die Swartbergvallei ly, veral oor naweke ’n veilige hawe kan vind.

Cybil se droom is egter in gevaar nog voor dit regtig van die grond af kan kom: die grond waarop Kalfieskraal staan is te koop en nie een van die moontlike kopers stel belang in die projek nie. Nie eens Cybil se skatryk verloofde, die volstruisboer Meyer Labuschagne (Hykie Berg), gee veel om oor die toekoms van die projek of die kinders nie.

Cybil se laaste hoop is om die direkteur van die Global Upliftment Fund, wat tans in die Klein Karoo soek na projekte om te ondersteun, te oortuig om haar projek te befonds.

Frans Coetzee (Tim Theron) is ’n rolprentmaker met ’n gebreekte hart, wat in die Klein Karoo is om saam met sy span ’n dokumentêr te maak oor opheffingswerk in die omgewing – en hopelik in die proses te vergeet van liefde, vrouens, en al die moeilikheid wat daarmee saam gaan. Maar dan kruis Cybil en Frans se paadjies, en altwee se wêreld word totaal omver gegooi.

Die rolprent begin 1 Februarie landswyd op die silwerdoek draai.

Regisseur: Regardt van den Berg
Vervaardigers: Cobus van den Berg, Tim Theron, Jorrie van der Walt
Akteurs: Donnalee Roberts, Tim Theron, Hykie Berg, Anel Alexander, Sisanda Henna, Pierre Breytenbach, Helene Truter, Bouwer Bosch, Leandie du Randt, Amalia Uys, Ilse Oppelt

[nggallery id=106]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.