Foto’s: Bom by Garsfontein-polisiestasie ontlont

Foto’s: Phillip Bruwer

ʼn Gedeelte van die perseel by die Garsfontein-polisiestasie in Pretoria, moes Dinsdagmiddag afgesper word, omdat ʼn ploftoestel daar ontlont moes word.

Volgens adjudant-offisier Annabelle Middleton, ʼn polisiewoordvoerder, het beamptes van die Garsfontein-polisie omstreeks 15:00 op ʼn klagte van intimidasie in Lynnwood-Glen reageer.

“Toe die beamptes daar aankom, het hulle beslag gelê op ʼn tas waarin 30 lugpistole en 13 messe was. Die tas is na die stasie geneem waar daar ʼn kompakte plofbare toestel in ʼn versteekte kompartement van die tas ingevind is,” het Middleton gesê.

ʼn Beampte het die toestel na ʼn afgeleë gedeelte van die stasie se perseel geneem en die polisie se honde-eenheid en bomeenheid ontbied. Die toestel het soos ʼn pypbom gelyk. Die honde-eenheid het bevestig dat die toestel positief getoets het vir springstowwe, waarna die bomeenheid die toestel ontkoppel en veilig verwyder het. Die toestel gaan vir forensiese toetse gestuur word vir verdere ondersoek.

ʼn 28-jarige man is in verband met die voorval in hegtenis geneem en moet binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn. Hy gaan aangekla word vir die onwettige besit van plofstowwe en word by die Garsfontein-polisiestasie aangehou.

Kaptein Pinky Tsinyane, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê in geen stadium was lede van die publiek se lewens in gevaar nie en die polisiestasie hoef nie ontruim te word nie.

[nggallery id=78]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.