Brandweerspanne is vroeg Donderdagoggend na die Mr Price Kings Park-stadion in Durban, KwaZulu-Natal, ontbied ná ʼn brand hier uitgebreek het.
Brandbestryders het hul omstreeks 06:30 na die toneel in Jacko Jacksonrylaan gehaas. Die metropolisie het die pad Jacko Jacksonrylaan tussen Ou NMR-laan en Gobleweg versper.
Tamara Naidoo, ʼn ooggetuie wat op pad was werk toe, het vlamme bo die dak sien uitlek. “Ek het in Ou NMR-laan gery en toe ek links kyk, kon ek die oranje vlamme bo Kings Park-stadion sien. Dit was seker ʼn meter hoog, dit het gelyk of die regterkant van die stadion aan die brand was,” het Naidoo aan East Coast Radio gesê.
ʼn Woordvoerder van die brandweer in KwaZulu-Natal het aan EWN gesê slegs een losie het gebrand en die brand is reeds geblus. Dit is nog nie bekend wat die brand veroorsaak het nie en of enigiemand beseer is nie.