Foto’s: Brian Boswell-olifante lyk rond en gesond

Wanky en Tembi saam hul afrigter, David Marais. Foto’s: Phillip Bruwer

Maroela Media het Woensdagmiddag ʼn besoek afgelê by die Brian Boswell-sirkus, wat tans in Centurion vertonings doen.

Die twee 29-jarige olifantkoeie, Wanky en Tembi, het in die veld oorkant die Centurion Mall rondgeloop en aan die groen gras en boomblare gekou. Hulle het ontspanne en gesond voorgekom. Maroela het ook ʼn onderhoud versoek met Georgina Boswell, wat saam haar ouers die jarelange familiebesigheid bestuur. Dié besoek volg na mediaberigte aan die lig gekom het van beweerde mishandeling van die sirkus se olifante. Carte Blanche het Sondagaand beeldmateriaal uitgesaai wat in Desembermaand opgeneem is. Dit wys onder andere hoe twee van die olifante se hanteerders Wanky en Tembi met ʼn stok slaan.

“Ons was netso geskok toe ons dit op televisie sien,” het Georgina gesê. Sy sê hulle het onmiddellik een van die versorgers geskors. “As ons vroeër van die mishandeling geweet het, sou ons hom al lankal ontslaan het,” het Georgina gesê.

Sy sê die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het haar teen die einde van Januarie in kennis gestel dat hulle oor beeldmateriaal van ʼn “ontstellende aard” beskik. Sy wou dit graag sien, maar dit is glo deur die DBV weerhou, weens ‘n kriminele klagte wat aanhangig gemaak is. Sy sê die ander versorger is reeds in Desember ontslaan. “Hy was op ʼn proeftydperk by ons, en is laat gaan omdat hy nie die mas kon opkom nie.”

“Ons vertroue is geskend in die werknemer wat ons olifante geslaan het. Hy het vir jare lank by ons gewerk en die olifante het nooit tekens van mishandeling gewys nie. Hy het selfs na hulle verwys as sy babas. Ons is lief vir al ons diere, as ons vroeër die beeldmateriaal kon sien, sou ons al lankal opgetree het,” het Georgina bygevoeg.

Buiten Wanky en Tembi, toer nege leeuwyfies, perde, ponies, bokke, varke en ʼn llama saam met die geselskap. Al die diere het genoeg water en kos in hul bakke gehad. Die leeuwyfies het ook liefdevol na hul leeutemmer, Rita van Duitsland, gehardloop en teen haar geskuur toe sy hulle roep.

“Ons maak gebruik van diere in ons sirkus om mense die geleentheid te gee om hierdie wonderlike diere in hul dorpe en stede te sien. Dit is wonderlik hoe ʼn mens en dier kan saamwerk. Dit is ʼn tradisie wat ons Boswell-gesin al 250 jaar voortsit en ons sal aanhou daarmee.”

Sy sê hulle het sedert die gesin die sirkus 31 jaar gelede na Suid-Afrika gebring het, talle besoeke van die DBV ontvang en hulle kon nog nooit iets fout vind nie. Al die nodige diere het ook permitte om landswyd te reis.  “Die beeldmateriaal is regtig ʼn geïsoleerde geval en ons het dadelik opgetree. Die Carte Blanche-berig sê onder andere ons olifante mag net urineer as daar ʼn emmer onder hulle gesit word. Dit is onsin, ons het wel ʼn werker gehad wat die urine in ʼn emmer versamel het, want hy het dit as muti verkoop. Dit is sy kultuur en ons respekteer dit. Daar word ook beweer ons olifante het nie skuiling nie – dit is ook onwaar, hulle het 24 uur per dag toegang tot skuiling. Maar hulle is Afrika-olifante, so sal in die reën of son staan as hulle wil.”

Daar word ook beeldmateriaal gewys wat wys hoe die olifante met ʼn ketting vasgebind word. “Ja, ons olifante word in die aande met ʼn ketting vasgemaak, net soos ʼn mens ʼn leiband aan ʼn hond sou vasmaak. Ons doen dit om seker te maak dat hulle nie rondwandel nie,” het sy gesê.

Sy sê die sirkus het niks om weg te steek nie en dat die publiek enige tyd welkom is om by hulle in te loer en die diere te besoek.

Lees ook:
Brian Boswell-sirkus reageer op aantygings
Publiek wil betoog oor beweerde olifant-mishandeling
DBV kla sirkus aan van mishandeling van olifant

[nggallery id=119]

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Monique ·

Loutere ONSIN!!!!! Vinnig distansieër hulle hulself van die voorval. As eienaar van ‘n besigheid, VERAL een waaraan jou naam gekoppel is, moet jy mos ALTYD bewus wees wat aangaan. Ek is NAAR van sirkusse. Almal weet hoe diere geknak en gebuig moet word om hul eie wil te verloor en te doen wat hul sg. hanteerders wil hê hul moet doen. Daar kan nie in ons “beskaafde” en ingeligte beskawing van vandag meer ‘n plek wees vir sirkusse nie. Hou die narre en die akrobate, maar los die diere in vrede. Dis wreed om diere so te misbruik vir geld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.