Foto’s: Broers herenig ná 80 jaar

Die twee broers kuier lekker saam ná 80 jaar

Twee broers wat as kleuters van mekaar geskei is, het mekaar nou weer, 80 jaar later, ontmoet – danksy die een se dogter en die krag van die internet.

Kenneth Corcoran en Ed Muir het mekaar laas in 1932 gesien toe hul ma gesterf het, berig die Daily Mail. Muir (84) en een van die ander broers is deur hul pa in Chicago grootgemaak, maar Corcoran (82) en twee ander sibbe het in ‘n weeshuis grootgeword. Vyf kinders was ‘n té groot las vir ‘n enkelouer te midde van die Groot Depressie.

“Ek was bekommerd oor hulle,” het Muir van sy langverlore broers en susters gesê. “Ek het gereeld aan hulle gedink, en gewonder wat van hulle geword het.” Al die ander sibbe, insluitend al die lede van die gesin wat Corcoran uiteindelik aangeneem het, is intussen oorlede.

Corcoran se dogter, Pam Gregerson, het 9 jaar geswoeg om haar pa se sibbe se name, geboortedatums en geboortedorpe op te spoor. Eers ‘n paar jaar nadat sy met haar navorsing begin het, het sy ontdek dat Corcoran sy van na sy ma se nooiensvan verander het. ‘n Maand gelede besluit Gregerson se tienerseun toe om in te gryp. “Hy het gesê, ‘Ma, ontspan. Laat ek bietjie speel en kyk wat kry ek.’ Binne 15 minute het hy my teruggeroep en gesê, ‘Kom hier, ek dink ek het hom opgespoor!’” Binne ure het hulle met Muir op die telefoon gepraat en vliegtuigkaartjies bespreek. Muir het van sy huis in Naples, Florida na Fargo in North Dakota gereis om sy broer te sien.

Toe die twee broers mekaar uiteindelik ontmoet, was die ooreenkomste oorweldigend. “Hulle is soos ‘n tweeling. Hulle is identies! Hulle lyk baie na mekaar en tree selfs dieselfde op,” het Gregerson gesê.

Beide mans het in die weermag gedien. Hulle het soortgelyke belangstellings en het selfs dieselfde gunsteling liedjie, “Wabash Cannonball”. Oor politiek stem hulle egter nie saam nie – Muir is ‘n Republikein en Corcoran ‘n Demokraat.

Die twee kan nie wag om mekaar weer te sien nie. “Tagtig jaar is ‘n baie lang tyd,” het Muir gesê. “Ons gaan nie weer 80 jaar wag om mekaar te sien nie,” het Corcoran bygevoeg.

[nggallery id=63]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet le Roux ·

Ha! Dis ‘n bewys: Hedendaagse Demokrate en Republikeine is eintlik baie dieselfde!

Toe die twee broers mekaar uiteindelik ontmoet, was die ooreenkomste oorweldigend. “Hulle is soos ‘n tweeling. Hulle is identies! Hulle lyk baie na mekaar en tree selfs dieselfde op,” het Gregerson gesê.

Beide mans het in die weermag gedien. Hulle het soortgelyke belangstellings en het selfs dieselfde gunsteling liedjie, “Wabash Cannonball”. Oor politiek stem hulle egter nie saam nie – Muir is ‘n Republikein en Corcoran ‘n Demokraat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.