Foto’s: Chaos op Pretoria-snelweg ná talle voertuie bots

Die foto van die ongeluk is op Twitter gelaai

Twee mense is dood en ʼn onbekende hoeveelheid mense beseer ná ʼn kettingbotsing Woensdagmiddag op die N4-deurpad in die noorde van Pretoria.

Johan Pieterse, ʼn woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê vier swaarvoertuie, 12 voertuie en ʼn minibustaxi was in die ongeluk betrokke. “Ons vermoed die ongeluk het gebeur weens ʼn veldbrand. Die rook het oor die pad gewaai en sigbaarheid belemmer, waarna die voertuie teen mekaar gebots het,” het hy gesê.

“Sover is twee mense dood, een is in ʼn kritieke toestand, en talle het verskeie beserings opgedoen,” het Pieterse gesê.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê dit is in die stadium nog nie bekend hoeveel mense beseer is nie, en dat paramedici van verskeie nooddienste steeds op die toneel is. Paramedici was teen 14:00 nog op die toneel en die hoofweg is vir verkeer gesluit. Die N4-deurpad is by die De Wildt en Ga-Rankuwa afritte in die rigting van Rustenburg toegemaak.

Pieterse het gesê opruimingswerk behoort nog tot 16:00 te duur.

Een persoon is dood en 54 mense beseer nadat 16 voertuie op 28 Julie in ‘n kettingbotsing op dieselfde snelweg naby Bronkhorstspruit betrokke was. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Seg Net ·

Sulke ongelukke gebeur gereeld waar daar veldbrande is. Die verkeersowerhede is deeglik bewus daarvan, maar sluit die pad eers nadat ongelukke plaasvind en mense dood is. Hierdie ongeluk kon voorkom gewees het. Mens verminder ook nie genoegsame spoed indien daar rook of mis op paaie is nie. Watse kans het ‘n motorvoertuig teen hierdie swaarvragvoertuie ? Geen.

Sanet strydom ·

Kan dit nie glo dis regtig erg kan daar nie meer metro beamptes op diens op daai paaie wees nie

Carin ·

Ons kan nie net altyd die owerhede blameer nie. mense moet self meer verantwoordelikheid neem. Ek het al gesien hoe verskeie idiote jaag in rook of digte mis…
Ek voel jammer vir die onskuldiges en natuurlik vir die wat gesterf of ernstig beseer is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.