Sedert sy haar seun in Maart vanjaar aangeneem het, het Charlize Theron vir Jackson uit die openbare oog gehou.
Die 36-jarige Oscar-wenner het haar bondeltjie vreugde trots aan die publiek vertoon toe sy Dinsdag deur die Charles de Gaulle-lughawe in Parys gestap het. Dit is die eerste keer dat haar seuntjie afgeneem is. “Sy wou altyd ʼn ma gewees het,” het ʼn bron aan US Weekly in Maart gesê. “Sy is baie bly om dit nou op haar eie te kan doen en sy is baie gelukkig om ʼn mamma te wees.” Tydens ʼn onderhoud met Vogue UK in Mei-maand het Theron glo gesê Jackson is “ongelooflik” en “die coolste kind ooit”. “Ek was nog altyd openlik daaroor dat ek graag ʼn gesin wil hê,” het die ster, wat nog nooit getroud was nie, gesê. “Ek wou nog altyd ʼn gesin gehad het, en ek dink my ma kon nie meer wag nie!”
Theron hoop die verhouding wat sy met haar seun bou soortgelyk sal wees aan die een wat sy met haar ma, Gerda, het. “Ek hoop om soos my ma te wees. Regverdig, sterk, liefdevol en ondersteunend. My ma het dit vir my moontlik gemaak om te wees wie ek is. Ons familie is alles,” het Theron, wat in Benoni grootgeword het, gesê. “Haar grootste vaardigheid was om my aan te moedig om my eie persoon te wees en my eie onafhanklikheid te vind.”
Theron, wat nog nie weer in ʼn ernstige verhouding was sedert sy haar negejaarlange verhouding met Stuart Townsend in 2010 verbreek het nie, is op 1 Junie saam Kristen Stewart en Chris Hemsworth in Snow White and the Huntsman te sien en op 8 Junie saam Michael Fassbender, Noomi Rapace, Guy Pearce en Idris Elba in Prometheus te sien.