Foto’s: DA wil Gupta-vervoerreëlings ondersoek

Dié voertuie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het na bewering die Gupta-familie na Sun City vergesel. Foto verskaf.

Foto’s volg onderaan die berig. Die Demokratiese Alliansie (DA) het Dinsdag gesê die Gupta-familie se gebruik van Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria is ‘n misbruik van staatgeld en moet ondersoek word.

“Nathi Mthethwa, minister van polisie, en ander staatsdepartemente wat die Guptas vrye teuels gee, moet aanspreeklik gehou word,” het Dianne Kohler-Barnard, woordvoerder van die DA, gesê. “Ek rig vandag [Dinsdag] ‘n skrywe aan Terrence Nombembe, ouditeur-generaal, om hom te versoek om die misbruik van openbare hulpbronne tot voordeel van die Guptas te ondersoek,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die gaste vir die Gupta-familietroue is na dié basis gevlieg en met bloulig-voertuie na Sun City in Noordwes vergesel. Die familie, wat die New Age-koerant en Sahara Computers besit, sal van 1 tot 4 Mei die huwelikseremonie van Vega Gupta (23) en Aaskash Jahajgarhia vier.

Die familie se vliegtuig moes glo op Waterkloof-lugmagbasis land, aangesien Lanseria-lughawe glo nie oor die kapasiteit beskik het om die grootte van die vliegtuig te akkommodeer nie. Klik hier om meer te lees.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het Dinsdag egter ontken dat hy toestemming aan die familie verleen het om by die lugmagbasis te land en dat hy nie bewus is van enige privaatvliegtuie wat gaste by die basis afgelaai het nie.

“Hierdie voorval wys hoeveel invloed die Gupta-familie oor die regering het. Openbare hulpbronne vir vriende is aan die orde van die dag. Die DA sal dit nie toelaat nie,” het Barnard bygevoeg.

‘n Bron het aan Maroela Media gesê lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is van Soweto, Vaal, Johannesburg en Pretoria ontbied om sowat 70 voertuie na Sun City te vergesel. Blykbaar sal dié lede oortydbetaling ontvang.

Die foto’s is deur ‘n bron aan Maroela Media besorg.
[nggallery id=123]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.