Foto’s: Dié gouejariges nou kannabissnoeiers

Ses flukse gouejariges het vandag vir hul eerste dag van snoeiwerk aangemeld by Cilo Cybin Pharmaceuticals aangemeld. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

’n Handjievol afgetredenes het vandag opnuut die werksmag betree – dié keer om die waters van kannabissnoeiwerk te toets.

Ses flukse gouejariges het vandag (16 Augustus) vir hul eerste dag van snoeiwerk aangemeld by Cilo Cybin Pharmaceuticals, ʼn farmaseutiese onderneming wat in kannabisprodukte spesialiseer.

“Dit voel asof ʼn mens weer iets beteken,” het die 63-jarige Magda Pieterse, een van die snoeiers, aan Maroela Media gesê.

“As ʼn mens so by die huis sit, kry jy dikwels die gevoel dat jy weer iets wil doen wat vrug sal afwerp, en as ek nou ʼn paar rand daaruit kan maak, waarom nie?”

Magda Pieterse, een van die snoeiers. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hierdie gemeenskapsprojek is deur die onderneming van stapel gestuur om ʼn hand van ondersteuning en hulp aan bejaardes te bied wat ʼn ekstra paar rand in hul beursies nodig het.

Die groep bejaardes sal voortaan verantwoordelik daarvoor wees om kannabisblomme, wat reeds geoes en uitgedroog is, te snoei. Die fyn blare word dan verder deur Cylo Cybin tot medisinale kannabisolies en -produkte verwerk.

Die groep flukse snoeiers werk in skofte van twee uur lank en verdien ʼn rand per gram. Elandi Vosloo, hoofapteker, het aan Maroela Media verduidelik dat ʼn goeie snoeidag maklik vir R1 000 kan sorg.

“Daar is spanne mense wat gewoonlik verantwoordelik is vir die fyn snoeiwerk, maar ons het gevoel dat daar potensiaal vir ʼn gemeenskapsprojek is,” het Vosloo gesê.

“Dit is ook nie sulke intensiewe werk nie, ʼn mens kan dit amper vergelyk met breiwerk – iets wat talle van die snoeiers reeds doen. Hulle kan ons help, en ons hulle.”

Elke snoeier moes deur ʼn streng keuringsproses gaan voordat hulle vir diens kon aanmeld, sê Vosloo.

Daar is fisieke vereistes waaraan elkeen moes voldoen, soos goeie sig en die vermoë om die stel steil trappe, wat na die snoeivertrek lei, uit te klim. Elke snoeier moet ook ʼn Suid-Afrikaanse burger sonder ʼn kriminele rekord wees.

“Natuurlik moet hulle bereid wees om vir ʼn onderneming te werk wat kannabisprodukte vervaardig,” verduidelik Vosloo.

Die snoeiers word voor elke skof oor hul gesondheid ondervra, aangesien hulle glad nie die vertrek mag betree as hulle siek is of selfs net olik voel nie. Die higiëniese prosesse, maatreëls en regulering is streng om te verhoed dat enige produk besmet word. Daar word ook van elke snoeier verwag om beskermende drag te dra om enige besmetting te voorkom.

Die farmaseutiese onderneming is verantwoordelik vir verskeie kannabisprodukte wat hoofsaaklik na die buiteland uitgevoer word. Die produkte is slegs medisinaal van aard, en word streng beheer en gereguleer.

“Ons het ʼn lisensie om die kannabis te groei en dan ook een om dit tot produkte te verwerk. Ons prosesse is van so aard dat ons rekenskap vir elke gram kannabis kan gee.”

Die groep snoeiers is met ope arms by Cilo Cybin verwelkom, daar het selfs twee finalejaarstudente in arbeidsterapie van die Universiteit van Pretoria hul ingewag vir ʼn opleidingsessie.

“Die groep snoeiers gaan vir lank aaneen sit, die opleidingsessie was bloot om vir hulle beter maniere te leer oor hoe om te sit om sodoende enige gewrigpyne of -styfheid te voorkom,” het Kristi Steyn, een van die studente aan Maroela Media gesê.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die studente het ook die werksomstandighede evalueer en ʼn terugvoersessie met Cylo Cybin gehad om enige verdere kwessies aan te spreek. Weens die skoon omgewing, word daar nie enige kussings in die vertrek toegelaat nie, iets wat later vir verdere ongemak en styfheid kan sorg.

“Ons het gekyk na hoe hulle sit, en ons beplan om raad te gee oor hoe om die omgewing te verbeter. Daar is ʼn paar kwessies, maar ons sal saam oplossings kan vind.

“Ons wil net hê dat die snoeiers gemaklik en gelukkig moet wees,” het Zekhethelo Mshengu, nog ʼn student, verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ag, ek sal dalk so ‘n ou knipseltjie of wat êrens aan die lyf wegsteek … vir privaatgebruik. Ek het darem ok mos bene en knieskywe wat pyn! LOL!!!

Oom ·

Noem dit wat jy wil, maar dagga bly dagga. Daar is ‘n goeie rede waarom hierdie dwelmmiddel in die verlede verbied was. Nou word dit ewe skielik ‘n eerbare werk om dit te verwerk. Ja, ek weet van al die vergelykings met tabak. Anders as tabak tas dagga jou sinne tot so ‘n mate aan dat dit jou motoriese funksies belemmer. En om dit as medisyne te verkoop, is maar net ‘n rookskerm. As dagga dan so goed vir die menslike liggaam is, hoekom word dit nie verniet verskaf nie? Die goed word teen die hoogste denkbare pryse verkoop. Die een wat hulpbehoewenes inspan vir die “werk” sal die gevolge van sy optrede in die toekoms deeglik ervaar.

Karoo ·

Kyk…. ek praat dwelems nie goed nie. Dit is nou wettig….. omdat die staat andersins geen geld daaruit kon maak anders as die smokelaars, polisie ens nie.

Truman Burbank ·

Dit is wettig, want regerings weet mense wat “hoog” is, protesteer minder

popsa ·

Juis Oom. Dagga is dagga, smart naam en al. Dit weet almal. Wie moet nou geflous word met “kannabis”?

Cathy ·

Ag nee Oom. Enige iets wat misbruik word is mos maar sleg vir jou liggaam. Daar is darem baie deeglike navorsing gedoen hieroor. Dit is duur want dit gaan deur verskeie duur prosesse. Gee kans, dit sal wel eendag goeskoper wees sodra die prosesse verfyn word.

Nommer 7 ·

Enige iets word altyd goedgepraat deur diegene wat finansiel daarby baat vind.

Vlooitjie ·

Nee wat oom, jy moet die ander kant van die saak ook navors. Daar is geweldig baie voordele in cannabis ook. Menige mense met verskeie kankers en pyn vind hierby baat en dis juis verbied omdat big pharma weet hoeveel baat dit eintlik het. Dagga het n label gekry wat dit byvoorbaat sleg maak en daar is vir jare net gerapporteer oor die sg newe effekte. Enigiets kan misbruik word… Daar is baie verantwoordelike dagga gebruikers daar buite. Dis n wan persepsie dat dit NET sleg is.

Jubba ·

Lees al die boeke en feitilike navorsing Oom, dit is medesyne vir hordes kwale of jy daarvan hou of nie. Groot pharmas wil nie he jy moet die plant op jou stoep groei nie want dan gaan die mensies nie biljoene spandeer op hulle chemiese pille vir alledagse kwale nie. Ek hoop nie jy vat n glasie wyn nie want dan gaan jy die gevolge van jou optrede in die toekoms deeglik ervaar.

Rooikopheks ·

Ek skrik toe ek die berig lees, gouejariges….bejaardes. Dan praat hulle ook van my, maar ek dink nie aan myself as bejaard nie.

Cathy ·

Hierdie artikel bring ‘n warm gevoel in my hart. Ek is dankbaar vir mense wat op hierdie manner dink en werk.

Antoinette ·

My ma sal dit ook kan doen. Kan ek die nommer kry asseblief. 0824399623 Antoinette

annie ·

Spaar asb ons Afrikaners uit om nog op jou oudag seën en bewaring van die Vader te moet afbid vir jou brood op die tafel van cannabis-knippery (asof die masker help). En dit word voorgestel as iets so edel en kosher om ons oues van dae mee besig en van die straathoeke weg te hou; uit te red. Regtig mense! So ‘n volk kan nie geseënd wees nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.