ʼn 61-jarige man van Duitsland, wat glo ʼn goeie vriend van die Tsjeggiese voortvlugtende Radovan Krejcir is, is Dinsdag in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy glo vir die afgelope agt jaar onwettig in die land is.
Thapelo Moeng, ʼn woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het gesê Willi Breuer is Dinsdag in Kiblerpark, suid van Johannesburg, in hegtenis geneem.
“Breuer word tans by die Lindela-repatriasiesentrum aangehou en wag om gedeporteer te word,” het Moeng in ʼn verklaring gesê.
Die departement het ook gesê Breuer is bankrot en dat hy by sy vorige adres vir die afgelope twee jaar glo nie huur betaal het nie, en gevolglik uitgesit is.
Die departement het hom in die kelder van ʼn vriend se huis opgespoor, waar hy vir die afgelope tyd gebly het. “Hy het ʼn bed, komberse, drie maaltye per dag, toegang tot water en ʼn toilet, en ook ʼn TV in sy kamer gehad.”
Die departement hoop dat Breuer reeds teen die einde van dié week gedeporteer gaan word, sodra onderhandelinge met die Duitse ambassade afgehandel is.