Foto’s: Dwelmklopjag in Durban

‘n Dwelmklopjag is Donderdag op ‘n huis in Glen Ashley, Durban, uitgevoer.

Volgens kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het lede van Durban se organiseerdemisdaad-eenheid, die blitspatrollie narkotikaspan en die misdaadintelligensie-eenheid dié klopjag uitgevoer. Dagga is in een van die kamers gekweek. Dagga is ook in ‘n gasbottel in die motorhuis opgespoor. Die gasbottel is spesiaal vir dié doel gewysig. Die polisie het ook op ‘n geheime kompartement in ‘n sleepwaentjie op die perseel afgekom waar dagga geberg is.

‘n Verskeidenheid boeke is ook in die huis gekry oor hoe om verskeie tipes dagga te kweek. Die polisie het verder beslag gelê op daggasaadjies en ander bewyse in die huis dat die verdagtes dwelms gekweek het.

Twee Suid-Afrikaners in hul 40s is in hegtenis geneem. Volgens die ondersoekbeamptes was dié spesiale dagga aan gekose klante teen meer as R100 per gram verkoop. “Die polisie het beslag gelê op meer as R400 000 se dagga. Beide verdagtes word aangehou tot hul hofverskyning,” het Naicker gesê.

Lt.gen. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, het die span gelukgewens met die deurbraak. “Ek is uiters tevrede met die vordering wat die onderskeie eenhede gemaak het. Ons rus nie op ons louere nie en doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om ons in dié taak by te staan,” het sy gesê.

[nggallery id=65]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.