Foto’s: Een dood na vragmotor op N3 omslaan

Een man is dood en twee ander ernstig beseer nadat ʼn vragmotor Saterdagoggend op die N3 omgeslaan het.

Nooddienste is omstreeks 02:30 ontbied ná die vragmotor naby die Hammersdale-brug in die rigting van Pietermaritzburg omgeslaan het, het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24 gesê.

Die kajuit het op sy sy op die middelmannetjie gelê, terwyl die wa-deel al die bane rigting noord versper het. Verkeer kon gelukkig oor die Hammersdale-burg herlei word terwyl paramedici en reddingswerkers op die toneel gewerk het. Twee mans en ʼn vrou het in die vragmotor gereis en dit is nog nie bekend wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die bestuurder is op slag dood.

Paramedici kon die vrou deur die ruit bevry, maar die tweede man het onder die stuurwielkolom en oorlede bestuurder vasgesit. Die man was in ʼn ernstige toestand en paramedici het hom solank behandel terwyl die brandweer die kajuit oopgesny het. Sowat drie ure later is die man uiteindelik bevry en hy is dadelik na ʼn hospitaal geneem om verdere behandeling te ontvang. Die vrou het ook ernstige beserings opgedoen en is na die RK Khans-hospitaal geneem.

Ondersoekbeamptes bestudeer tans die toneel en die verkeer sal steeds herlei word totdat die wrak van die vragmotor verwyder is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.