Foto’s en video: 12 dood, miljoene sonder elektrisiteit ná storm in Amerika

Ten minste 12 mense is Vrydagaand dood weens kragdrade en bome wat omgeval het ná ʼn hewige storm in verskeie state van Amerika.

“Dit is soortgelyk aan Orkaan Irene,” het Martin O’Malley, goewerneur van Maryland gesê. Ten minste 20 mense is in 2011 dood ná Orkaan Irene Amerika verlede jaar geteister het, berig CNN.

Die verwoesting het die goewerneurs van Virginia, Wes-Virginia en Ohio genoop om ʼn noodtoestand te verklaar. “Honderde duisende huise is tans sonder elektrisiteit en dit kan tot ʼn week duur voordat elektrisiteit na Washington herstel is,” het Joseph Rigby, president van die elektrisiteitsmaatskappy, Pepco, gesê.

Die storm het Vrydag en Saterdag Indiana, Ohio, Wes-Virginia en Washington getref met stormsterktewinde van sowat 80 myl per uur (128 km/h).

Nagenoeg 4 miljoen mense was Saterdag in die betrokke gebiede sonder elektrisiteit gelaat.

In Washington is temperature van tot 40°C aangemeld weens die hittegolf. Vanweë die kragonderbrekings het mense na ongevalle kamers gehaas om af te koel. “Biblioteke en gemeenskapsentra regoor Maryland bly nou later oop om ʼn lafenis te bied,” het Fran Phillips, adjunksekretaris van dié staat se departement van gesondheid gesê.

Selfoon- en internetdienste is onderbreek, vulstasies moes sluit en inwoners is aangeraai om spaarsamig met water te werk totdat kragtoevoer by rioolaanlegte weer herstel is.

Foto’s deur Washington Post. Onderaan die foto’s is ‘n video van die hewige storm in Washington wat deur die gebruiker missileproofkongcode op YouTube gelaai is.

[nggallery id=46]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.