Foto’s en video: Batman opgespoor!

Die foto wat die bohaai op sosiale netwerke begin het.

Die polisie in Maryland, Amerika, het verlede week ʼn motoris op Route 29 in Silver Spring weens sy nommerplate afgetrek. Die kar was ʼn swart Lamborghini, die nommerplate was die Batman-logo, en die bestuurder was Batman, van kop tot tone geklee in superheld-regalia, berig die Washington Post.

Kort voor lank het foto’s en video’s van die voorval op Facebook, Twitter, CNN en koerante in Londen verskyn. Die voorval is selfs op Jimmy Fallon se program op NBC uitgesaai, en die een vraag was op almal se lippe: wie is dié Batman? Humoristiese aanmerkings soos “Laat hom sy werk doen!”, “Batman het duur smaak” en “Het hulle hom gevra om sy masker af te haal?” het die tonge laat klap. Batman het aan die beamptes gesê sy regte naam is nie Bruce Wayne nie, maar Lenny B. Robinson.

Die polisie was egter nie beïndruk nie en wou hom oor sy superheld-logo nommerplaat beboet, aangesien dit nie ʼn goedgekeurde nommerplaat in Maryland is nie. Robinson kon egter sy regte nommerplaat aan hulle wys. Uiteindelik het hy darem skotvry van die voorval weggestap.

Dié gemantelde held is ʼn sakeman van Baltimore County wat siek kinders in hospitale besoek en deel Batman-toebehore aan dié voornemende superhelde uit wat eers kanker en ander gevreesde siektes moet oorwin. Robinson het aan die Washington Post gesê dat hy elke keer ongeveer 2 kg in watergewig verloor wanneer hy dié kostuum aantrek. Hy het $5 000 daarvoor betaal. Hy spandeer jaarliks ongeveer $25 000 op Batman-speelgoed en memorabilia. Hy onderteken elke boek, hoed, T-hemp en rugsakkie wat hy uitdeel: Batman.

Robinson is 48 en ʼn selfgemaakte sukses. Hy het onlangs ʼn skoonmaakbesigheid wat hy reeds sedert sy tienerjare bedryf, vir ʼn sak vol geld verkoop. Sy seun Brandon, wat as klein seuntjie dol was oor Batman het dié pa aangesteek. “Sy obsessie het my obsessie geword,” het hy gesê. Batman het in 2001 hospitale in die Baltimore-gebied begin bywoon, soms saam met Brandon (nou al ʼn tiener) wat as Robin aangetrek is. Toe ander hospitale en welwillendheidsorganisasies van sy voertuig en mantel te hore gekom het, het hulle hom dadelik versoek om hulle gebied ook te besoek. Robinson besoek soms ook skole om oor bullebakke te praat, maar hy verskaf glad nie vermaak aan verjaarsdagpartytjies nie.

Kyk hieronder na die video.

Klik hier om na nog foto’s te kyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.