Foto’s en video: E-tolbetoging in Gauteng

Betoging by die Riviera-afrit. Foto deur die gebruiker @nickolausbauer op Twitter gelaai.

Die foto’s en video volg onderaan die berig.

Die “stadig ry”-betoging teen die e-tolstelsel in Gauteng het Donderdag net ná 09:00 in Braamfontein en Katlehong, oos van Johannesburg, begin.

Die N3-snelweg was Donderdag vir ʼn wyle deur ʼn motorkade gesluit. Motors het omstreeks 10:15 dwars op die snelweg parkeer en die snelweg versper. Van die motoriste het uit hul motors geklim en op die snelweg begin dans. Polisiebeamptes het die betogers aangespreek en die motorkade het weer begin beweeg. Van die betogers het egter op die snelweg gebly en aanhou dans.

Betogers eis dat die e-tolstelsel in Gauteng geskrap moet word. Vakbondfederasie Cosatu het verlede week gedreig dat hulle tydens die betoging Gauteng se strate sou beset en snelweë sal versper. Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) het ʼn hofaansoek ingedien om die projek te skrap, maar wag nog op die uitspraak.

Motoriste in Braamfontein het teen sowat 20km/h gery, het Cosatu gesê. “Daar is geen haas nie, kamerade, ons het al die tyd tot ons beskikking,” het Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van die vakbondfederasie, gesê. “Ons het nie ʼn duisend motors nodig nie, met die motors wat deelneem kan ons ons doelwit bereik.”

Motoriste in Katlehong het teen sowat 10km/h gery.

Sowat 30 motors het in die motorkade in Johannesburg se middestad deelgeneem en 30 motors aan die Oos-Rand.

Mede-motoriste het in solidariteit hul toeters gedruk. Een vragmotor wat aan die Oos-Rand aan die betoging deelgeneem het, het harde musiek gespeel.

Wayne Minnaar, superintendent van die metropolisie in Johannesburg, het vroeër gesê geen fietse sal aan die betoging mag deelneem nie. “Trekkers word toegelaat, aangesien dit ʼn voertuig is, maar geen fietse nie,” het hy gesê. Cosatu het betogers verlede week aangemoedig om selfs met fietse aan die betoging deel te neem.

Intussen het ‘n onderonsie ook tussen betogers en die polisie in Ekurhuleni uitgebreek. Die video volg onderaan die foto’s. Die video is deur die gebruiker Phillip de Wet op YouTube gelaai.
[nggallery id=98]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

mina ·

wens ek was daar sou saam gery het orals moet jy net bly betaal ons verarm heeltemal. alles gaan net op en op en die blanke se salaris word minder en minder maar ons mag nie betoog dan is jy summier sonder werk

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.