Foto’s en video: Orkaan Sandy saai verwoesting

Motors dryf in die water in Manhattan Foto: Andrew Burton, Getty Images

Die foto’s en video volg ná die berig.

Miljoene mense in Amerika is Dinsdagoggend sonder elektrisiteit gelaat en minstens 38 mense is reeds in Amerika dood.

Talle van die oorledenes is deur vallende bome getref, berig Associated Press. Die omvangs van die skade is nog nie vasgestel nie. Orkaansterkte winde van sowat 80 mph (128 km/h) het Maandagaand deur New Jersey gewaai. Polisiebeamptes en brandbestryders, sommige wie se eie afdelings oorstroom het, het honderde mense te hulp gesnel.

Meer as 8.2 miljoen mense aan die ooskus van Amerika is tans sonder elektrisiteit. Lugrederye het meer as 15 000 vlugte wêreldwyd kanselleer en dit kan dae lank duur voordat die probleem opgelos is en passasiers weer by hul bestemmings kan uitkom.

Die storm het ook die presidensiële verkiesingsveldtog ontwrig. President Barack Obama het vir die derde agtereenvolgende dag sy veldtog uitgestel. Republikein Mitt Romney het sy veldtog voortgesit, maar beplan om dit in Ohio in ‘n “stormverligtingsgeleentheid” te omskep.
“Orkaan Sandy het eiendomskade van sowat $20 miljard aangerig, en tussen $10 en $30 miljard is afgestaan aan verlore besigheid,” het IHS Global Insight berig.

‘n Rekordgetal 4m-stroom seewater het deur Lower Manhattan (insluitend Wall Street) gespoel. Water het by die konstruksieperseel by die World Trade Centre ingestroom en die New York Aandelebeurs (NYSE) was vir ‘n tweede dag gesluit. Die NYSE was laas in 1888 vir twee dae weens weersomstandighede gesluit, maar sal glo Woensdag weer vir handel oop wees.

Minstens 100 huise is Dinsdag deur ‘n brand in Queens vernietig. Drie mense is beseer.

New York se Tisch-hospitaal moes 200 pasiënte ontruim nadat sy rugsteun kragopwekker nie wou werk nie. Sowat 20 babas is van die neonatale intensiewesorg-eenheid met trappe afgedra en is aan batteryaangedrewe-asemhalingstoerusting gekoppel.

‘n Konstruksie-hyskraan wat Maandag omgewaai het, hang steeds 74 verdiepings bo die strate van middel-Manhattan en honderde mense moes as ‘n voorsorg ontruim word. ‘n Tenkskip het op Staten island gestrand.

Meeste groot tonnels en brûe in New York, sowel as skole, Broadway-teaters en die metropool se drie hoof lughawens, LaGuardia, Kennedy en Newark, was gesluit.

Michael Bloomberg, burgemeester van New York, sê dit is nog nie duidelik wanneer die ondergrondse treinstelsel weer in werking gaan wees nie, aangesien talle van die tonnels nog oorspoel is.

Die elektrisiteitsmaatskappy Consolidated Edison sê dit kan ten minste ‘n week duur om elektrisiteitstoevoer na nagenoeg 800 000 klante in en rondom New York te herstel. Faye Schwartz, ‘n inwoner van Brooklyn, het gesê motors was soos “blare gestrooi”.

Die dodetal het skerp gestyg en sluit 17 slagoffers in New York in, tesame met vyf mense in Pennsylvania en vier in New Jersey. 69 mense is in die Karibbiese Eilande oorlede voordat Orkaan Sandy die ooskus getref het.

Die video volg ná die foto’s.

[nggallery id=85]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.