Ford het Maandag om verskoning gevra vir ‘n reeks Indiese advertensies waar ‘n bekende persoonlikheid in ‘n motor wegry met vroue wat agterin die kattebak vasgebind en se monde toegeplak is.
‘n Woordvoerder vir die Indiese filiaal van Ford Motor Company, het gesê die advertensies is die produk van ‘n agentskap wat vir hulle gewerk het, en is nooit in ‘n veldtog gebruik nie. Die advertensies is intussen van die agentskap se webwerf verwyder.
In die een advertensie sit die voormalige eerste minister van Italië, Silvio Berlusconi, in die bestuurdersitplek van ‘n Ford Figo en wuif ‘n oorwinningsteken oor sy skouer. Die byskrif lees: “Laat jou sorge agter met Figo se ekstragroot kattebak”. In nog ‘n advertensie (sien onderaan berig) is Paris Hilton in die bestuurdersitplek en die drie Kardashian-sussies, Kim, Khloe and Kourtney agterin die kattebak, ook vasgebind en hul monde toegeplak. In ‘n derde advertensie (sien onderaan berig) is die Formule 1-renjaer, Michael Scumacher in die bestuurdersitplek met sy drie mede-renjaers, Sebastian Vettel, Lewis Hamilton en Fernando Alonso agterin die kattebak, vasgebind en hul monde toegeplak.
Die maatskappy sê hy het “baie berou” oor die voorval en dat die advertensie “teenstrydig is met die standaarde van professionalisme en ordentlikheid binne Ford”. Die advertensie is nooit deur beamptes van die maatskappy goedgekeur nie. “Saam met ons vennote hersien ons die goedkeuring- en oorsigprosesse om seker te maak dat só iets nooit weer gebeur nie,” het Ford gesê.
Daar was al talle openbare betogings teen geweld teen vroue in Indië en versoeke word gerig dat swaarder strawwe ingestel moet word sedert die noodlottige bendeverkragting van ‘n 23-jarige vrou op ‘n bewegende bus in Desember.