Foto’s: Franse lok Britte met SA-strande!

Foto’s van lieflike strande met humoristiese slagspreuke het beoog om Britse toeriste tydens die Olimpiese Spele in Londen na Frankryk te lok. Die grap is egter dat die plakkate wat die voortreflike strande in die noorde van Frankryk moes uitbeeld, foto’s van ʼn strand in Suid-Afrika is, het die Telegraph berig.

Toerisme-agente in Frankryk het meer as £500 000 aan die veldtog bestee, wat koerantadvertensies en 23 plakkate regoor die London Underground vir drie weke dié maand insluit. Ongelukkig het die advertensieagentskap egter per ongeluk foto’s van ʼn strand in Kaapstad – sowat 9 000 km vanaf Frankryk – in twee van die plakkate gebruik. Modefotograaf Bradford Bird, wat in Londen woon, het die fout raakgesien. Bird het in Kaapstad in die voorstad Llandudno grootgeword. Volgens Bird was dit die welbekende rotsformasie van Llandudno in die agtergrond van een van die “Franse” strande wat hom twee keer laat kyk het. “Ek het die strand dadelik herken, en gedink ‘dis nogal astrant!’ en het toe die foto op my Facebook-blad gelaai.”

Die aanstootlike plakkaat wys ʼn gesin wat op die strand hardloop met die woorde “Naelloop op die noordelike Franse kus”. Die Franse toerismeraad beskryf die veldtog as “humoristies”, aangesien dit sinspeel op die Olimpiese Spele.

Llandudno, vernoem na ʼn kusdorpie in Noord-Wallis, is een van Kaapstad se eksklusiewe voorstede en is vir sy voortreflike strand en indrukwekkende golwe bekend. Alhoewel Bird dit nie dadelik opgelet het nie, blyk dit dat dieselfde strand en see, dié keer uit ʼn ander hoek geneem, ook in ʼn plakkaat gebruik word met die slagspreuk “Diskus op die Mediterreense kus”.

Die Franse toerismeraad het dadelik die foto’s van hul webwerf, www.gotofrancenow.com, verwyder nadat hulle van die fout in kennis gestel is. In beide gevalle was dit egter te laat om die plakkate en koerantadvertensies te verander. Die Britse advertensieagentskap wat die plakkate ontwerp het, het om verskoning gevra. The Line Agency se besturende direkteur, Steve Turton, sê die foto’s is uit ʼn versameling van ongeveer 3 000 voorraadfoto’s van Franse strande geneem. ʼn Sub-soektog in hierdie 3 000 foto’s het egter weer foto’s van regoor die wêreld ingesluit.

Een van die plakkate wat in die veldtog gebruik word. Llandudno is duidelik in die agtergrond herkenbaar..

Llandudno-strand, Kaapstad

Die tweede plakkaat waar Llandudno - die keer uit 'n ander hoek geneem - gebruik is.

Llandudno, uit dieselfde hoek geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.