Foto’s: Groot aardbewing saai dood en verwoesting in Filippyne

Die voorkant van die Loboc-kerk. Foto: @tokyodrastic / Twitter

Die voorkant van die Loboc-kerk. Foto: @tokyodrastic / Twitter

Minstens 20 mense is Dinsdagoggend dood en talle beseer toe geboue ná ‘n aardbewing in die Filippyne ingestort het.

Die aardbewing, wat 7,1 op die Momentmagnetideskaal geregistreer het, het die Filippyne vroeg vanoggend getref. Hoewel die skudding die eiland Bohol getref het, het die meeste skade op die naburige eiland Cebu voorgekom, waar ‘n hospitaal aan die brand geslaan het. Op Bohol het minstens ses mense omgekom weens geboue wat ineengestort het. Minstens 15 mense het op Cebu omgekom. Talle skole en lughawens is gesluit. Die skudding was sowat 350 kilometer van die hoofstad, Manilla.

Die Sto Nino-kerk. Foto: @franzestores / Twitter

Die Sto Nino-kerk. Foto: @franzestores / Twitter

Cebu is ‘n gewilde toeristebestemming.

Die skade en lewensverlies was ten spyte daarvan dat die skudding betreklik diep onder die oppervlak, 20 kilometer, plaasgevind het. Aanvanklik is berig dat die skudding M7,2 geregistreer het maar die USGS het dit na 7,1 aangepas. Dit is ongeveer tien keer sterker as die skudding wat in die vorige eeu die Bolandse dorpe Tulbagh, Ceres en Wolseley getref het.  Verskeie naskokke van M5 het ook reeds voorgekom.

Met nog byna drie maande van die jaar oor word 2013 nou vinnig een van die hewigste aardbewingjare die afgelope dekade wat die aantal aardbewings van M7 en sterker betref.

Paaie beskadig in Bohol. Foto: @tokyodrastic / Twitter

Paaie beskadig in Bohol. Foto: @tokyodrastic / Twitter

Die groot vraag bly wanneer die volgende grote Los Angeles of San Francisco gaan tref. Kenners is dit bykans eens dat die grotes vir hierdie stede “agter skedule” is. Tog doen die stadsvaders van Los Angeles nie hul plig om die eienaars van gevaarlike geboue te dwing om plan te maak nie, het die Los Angeles Times pas berig. Trouens, die munisipaliteit versuim om selfs net ‘n lys van gevaarlike geboue te maak. ‘n Groep wetenskaplikes het nou wel so ‘n lys saamgestel, maar sê hulle sal dit slegs beskikbaar stel as die munisipaliteit daarvoor vra – en die stadsvaders doen dit nie.

Winkelskade in Cebu. Foto: @marky_bautista / Twitter

Winkelskade in Cebu. Foto: @marky_bautista / Twitter

Dit handel veral oor ou betongeboue, wat ten spyte van hul stewige voorkoms baie kwesbaar is vir die horisontale bewegings in aardbewings. Die ou geboue is nie genoegsaam met staal versterk nie. Na raming kan meer as ‘n duisend mense hul lewens verloor as van die geboue sou instort. Dit wissel van toringgeboue in die middestad, tot luukse meenthuise in Millionaires’ Mile in Westwood.

Die navorsers wys daarop dat 133 van die sterftes in Christchurch, Nieu-Seeland, voorgekom het toe twee betongeboue ingestort het.

Foto: @tokyodrastic / Twitter

Foto: @tokyodrastic / Twitter

Die Christchurch-skudding van 2011 het 185 lewens geëis ten spyte daarvan dat dit maar 6,3 op die momentmagnitudeskaal geregistreer het. Die skudding van M9 wat Japan geskud en ‘n kernkragsentrale beskadig het, was byna 100 keer sterker.

Joernaliste van die Los Angeles Times het self ‘n opname gedoen, en hoewel baie van die ouer geboue se bousamestelling  nie in die bouplanne vermeld word nie, is nogtans meer as ‘n duisend geïdentifiseer. Los Angeles is digby die San Andreasfout geleë wat ook deur die baai van San Francisco loop. Sedert 1900 het daar reeds drie aardbewings in Kalifornië voorgekom wat tien keer of meer sterker was as die aardbewing wat Christchurch verwoes het. Die laaste groot Kaliforniese aardbewing was op 4 April 2010 in die Baja California aan die Meksikaanse grens. Daardie skudding het M7,2 gemeet. Die sterkste aardbewing in Kalifornië sedert met meting begin is, was in 1857 toe ‘n skudding van M7,9 gemeet is.

Hoewel die  Amerikaanse weskus weens die San Andreasfout met aardbewings geassosieer word, is van die sterkste Amerikaanse skuddings, buite Alaska, op die New Madrid seismiese sone in die hartland van die VSA gemeet. Tussen 1811 en 1812 is drie skuddings van meer as M7 binne ‘n kort tydjie in dié gebied gemeet. Wetenskaplikes het eers onlangs bepaal wat die oorsaak van skuddings in die gebied is.

Wêreldwyd het daar vanjaar reeds 17 skuddings van M7 of sterker voorgekom.  

Volledige artikel van die Los Angeles Times kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.