Foto’s: Grootoog haasbekkies daag op vir gr. 1

Nova Kritzinger en Eminé Sciocattï (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Deur Anja van der Merwe en Megan Swart

Derduisende “parrabeentjies” het Woensdagoggend by skole in die binneland aangemeld vir hul eerste dag van skool. Soms het die trane geloop, by leerders én ouers, maar die opwinding het gou die oorhand gekry.

Altesaam 61 haasbekkies met oorgroot skooltasse het Woensdagoggend by die Laerskool Menlopark in die ooste van die Jakarandastad vir hul eerste skooldag aangemeld.

Die meeste kindertjies het met groot opgewondenheid die skool se hekke betree, terwyl dit die ma’s was wat die trane in hul oë moes beteuel.

“My mammahart is seer, maar ek is opgewonde om te weet dat sy baie gelukkig gaan wees in gr. 1,” vertel Roelize Mörs oor haar sesjarige dogter, Imche Mörs.

Jomari Sciocattï, ʼn ma van drie, se laatlamdogter, Eminé Sciocattï, het met twee boksterte vir haar eerste skooldag aangemeld. Sy en haar maatjie, Nova Kritzinger, het albei vertel dat hulle opgewonde is oor die nuwe skooljaar.

“Eminé het vanoggend vroeg opgestaan, self ontbyt geëet en aangetrek. Sy is baie lief vir skool en het uitgesien na hierdie dag,” vertel Sciocattï.

Personeel en ouer leerders het by die hekke gestaan om die gr. 1’s te ontvang. Oudergewoonte was daar fotorame waarin die nuwelinge almal ʼn foto van hul eerste dag kon laat neem. Hulle kon ook foto’s saam met Superbokkie, die skool se gelukbringer, neem.

By die Laerskool Constantiapark het dit gewemel van opgewonde graadeentjies wat vir hul eerste skooldag aanmeld, terwyl mammas en pappas by die skoolhekke gestaan en trane afvee het.

Altesame 176 entoesiastiese seuntjies en dogtertjies het met hul splinternuwe skooluniform op die skool se paviljoen byeengekom om hul tassies by een van die tien gr. 1-klassies neer te sit.

Die kinders kon skaars hul opgewondenheid beteuel toe die skool se geliefde gelukbringers, Rooikat en Rooiskat, hulle met drukkies en ʼn vatvyf elk gegroet het.

Elke jaar is anders

“Die gr. 1’s is oor die algemeen meer opgewonde as bang en hartseer omdat die meeste van hulle gr. R by ons voltooi het. Hulle is dus bekend met die skoolomgewing en het reeds maatjies. Hulle het ook reeds hul onderwysers ontmoet,” het Chrisna Otto, departementshoof van die Laerskool Menlopark se grondslagfase, aan Maroela Media vertel. Ilse Oosthuizen, die gr. 1’s se graadhoof by Constantiapark, beaam dit en sê die gr. 1’s het Dinsdag reeds aangemeld om hul onderwysers te ontmoet.

Volgens Mari Kirkpatrick (64), een van die gr. 1-onderwysers aan die Laerskool Menlopark, is elke jaar se gr. 1’s anders. “Elke jaar is dit soos ʼn nuwe geskenkie wat jy kry. Jy maak dit oop en ontdek wat in die pakkie is. Elke kind is uniek.”

Kirkpatrick gee al die afgelope 31 jaar by Laerskool Menlopark skool en tree vanjaar af.

Haar tema in die klas vanjaar is “sterretjies”. “Ek wil elke kind uit eie reg ʼn sterretjie maak, want hulle is reeds elkeen ʼn blinkoog sterretjie.”

Sy sê al die onderwysers is slaggereed om die nuwe akademiese jaar aan te pak, aangesien hulle reeds die vorige jaar hul voorbereiding voltooi het.

“Ons maak seker dat al ons beplanning en voorbereiding gedoen is wanneer die kinders in die klas stap. Als is op sy plek en die kinders se boeke is selfs oorgetrek,” het Kirkpatrick vertel.

Die Laerskool Constantiapark bied reeds van gr. 1 af Zulu as ʼn taal aan en die kinders kry ook van vanjaar die geleentheid om kodering te leer. Die skool bied ook musiek en skaak aan wat help met die ontwikkeling van die gr. 1’s.

Oosthuizen sê die onderwysers gaan veral daarop fokus om die kinders genoeg tyd in die buitelug te gee, terwyl hulle ook leer “lees is ʼn fees”.

Vandag gaan die gr. 1’s egter net hul maats leer ken en oefen om hul name te skryf voordat huiswerk uitgedeel word.

“Die hoogtepunt van elke dag is egter pouse. Die kinders is net te opgewonde om pouse te hou en in hul kosblikke rond te krap vir al die lekkernye,” sê Oosthuizen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moereloosverby ·

Sjoe, ek hoop julle het elkeen van daardie kinders en hulle ouers se toestemming gevra om name en foto’s te plaas (oogknip). Anders gaan die POPI dans;-). Pragtig om die jeug so te kan sien, maak mens positief oor ons toekoms!

Blomme ·

Hoop op ń verbeterde en kwaliteit gedrewe onderwysstelsel wat hierdie pragtige kinders van ń goeie toekoms sal kan verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.