Foto’s: Gru-ongeluk eis 4 lewens

Foto: ER24

Drie mans en ʼn jong vrou is vroeg Sondagoggend dood ná ʼn gru-ongeluk op die R21-snelweg naby die Nelmapius-afrit in Centurion.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, was paramedici spoedig op die toneel maar drie mense is weens die impak dood. Volgens ooggetuies het een van die voertuie in ʼn teenoorgestelde rigting op die snelweg gery en reg van voor teen die ander voertuig gebots. Die impak het beide voertuie uitmekaar geskeur en wrakdele was oor die pad gestrooi. Die bestuurder van die sedan is dood asook ʼn man en ʼn 19-jarige vrou wat in die ander voertuig, ʼn Toyota Yaris, gery het.

ʼn Manlike passasier wat in die Yaris gery het is op die toneel behandel en na die hospitaal in Tembisa gehaas, terwyl paramedici sy toestand probeer stabiliseer het. Hy het egter aan sy beserings beswyk. Slegs ʼn vrou het die ongeluk oorleef en is in ʼn ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal.

Die owerhede sal die oorsaak van die ongeluk probeer bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.