Foto’s: Helpende Hand vier Moedertaaldag met verhale van Afrikaanse helde

Solidariteit se Helpende Hand het Dinsdag Internasionale Moedertaaldag gevier deur die leerlinge van Laerskool Louis Leipoldt met verhale oor Afrikaanse helde te vermaak.

Die organisasie sê hy glo in die voortbestaan en beskerming van moedertale. Tydens die geleentheid het dr Dirk Hermann, voorsitter van Helpende Hand se direksie, die verhaal van die dapper Afrikaanse seun Japie Greyling, voorgelees. Die verhaal is terselfdertyd treffend deur ses leerlinge van die skool opgevoer. Na die voorlesing het die opkomende sanger en ambassadeur van Helpende Hand se Beroepsleidingsdienste, Andries Hendrik Potgieter, die kinders met ou bekende Afrikaanse liedjies soos “Bobbejaan klim die berg” en “Ta’ Hessie se wit perd” vermaak. Die kinders het uit volle bors saamgesing. Dr Hermann het ouers en onderwysers aangemoedig om meer Afrikaanse stories te vertel sodat Afrikaans kan voortleef. “Nie net stories nie, húlle stories. Elke kind het ʼn storie en ons moet seker maak dat ons ʼn kultuur skep waar ons vir die kinders hulle stories leer,” sê dr Hermann. “Geskiedenis vorm ʼn kind en sê vir hom of haar: ‘Hier is jou plek’. Ons oproep is dat alle skole die geskiedenis reg sal oorvertel.” Die geleentheid is ter ondersteuning van Vriende van Afrikaans se veldtog oor moedertaalonderrig gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.