Foto’s: Hermanus-brand onder beheer gebring

Foto deur die gebruiker @ndreline op Twitter gelaai

‘n Brand wat oor 2 000 hektaar in die Overstrand-gebied gewoed het, is onder beheer gebring.

“Die brand is tot een gedeelte van die berg oos van Hermanus beperk en sal deur die nag dopgehou word,” het Fanie Krige, woordvoerder van die munisipaliteit, gesê. “Hulle het laatmiddag steeds gesukkel met die brand wat hier en daar opgevlam het en hulle het van ‘n helikopter gebruik gemaak om waterbomme oor die gebied uit te gooi.”

Brandbestryders hoop die koeler temperatuur in die aand sal die brand afkoel sodat dit in die oggend in sy geheel geblus kan word.

Daar is tans geen bedreiging dat die brand na enige huise in Hermanus sal versprei nie. Brandbestryders is egter besorg oor ‘n tweede front van die brand langs die kus waar baie fynbos groei.

Volgens Krige is geen beserings of sterftes aangemeld nie.

Twee brandbestryders is vir hitte-uitputting behandel voordat hulle weer aan die werk gespring het. Die brand het skade rondom die Hermanus-seiljagklub aangerig. Drie bote, wat op land was, is in die brand vernietig. ‘n Paar karavane, twee houthuise en ‘n opsigter se huis is ook verwoes.

Die brand het ook op die pad tussen Hermanus en Stanford gewoed en elektrisiteitstoevoer is in die gebied afgesny weens die elektrisiteitspale wat beskadig is. Daar is kragonderbrekings in die Gansbaai en Stanford-gebied met die R43-pad wat ook gesluit is.

[nggallery id=101]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.