Foto’s: Honderde stap teen geweld in Kaapstad

Honderde Kapenaars waaronder die burgerregte-organisasie AfriForum en bekendes soos Bobby van Jaarsveld, Emo Adams, Sarah Theron en Dowwe Dolla het Woensdag ʼn vreedsame optog na die parlement gehou om regeringsingryping teen geweldsmisdaad in Suid-Afrika te eis.

Die parlement se Nasionale Vergadering, wat vandag in sitting was, het ʼn memorandum in ontvangs geneem. Verskeie instansies, waaronder die Christian Action Network en die Family Policy Institute het ook aan die staptog deelneem. Die aksie was ʼn opvolg op die Stap-teen-geweld-optog wat op 19 Junie na die Uniegebou in Pretoria onderneem is. Die inisiatief is geneem in reaksie op die vlaag van geweldsmisdaad wat die land die afgelope paar jaar teister. Die doel is om ʼn duidelike boodskap aan die regering te stuur dat Suid-Afrikaners dit nie verder sal duld nie.

Volgens Van Jaarsveld reis kunstenaars regoor Suid-Afrika en hoor hulle weekliks van mense wat hul geliefdes aan die dood afgestaan het in inbrake, motorkapings en gewapende rooftogte. Ander weer, was slagoffers van ander geweldsmisdade soos verkragting en aanranding. “Hierdie slagoffers is ons ondersteuners en ons kan nie stilsit en toekyk hoe hulle daagliks uitgelewer is aan misdaadbendes wat besig is om mense se regte en vryhede te vertrap nie,” het Van Jaarsveld gesê.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat sy organisasie betrokke is by verskeie inisiatiewe om misdaad te bekamp, maar dat die krag van sigbare protesoptrede nooit onderskat moet word nie. “Ons het reeds na die setel van die uitvoerende gesag gestap. Nou gaan ons die wetgewende gesag nader.” AfriForum onderneem hierdie inisiatief in vennootskap met Van Jaarsveld. Roets het bygevoeg dat daar na afloop van die Pretoria-staptog vroeër vanjaar verskeie versoeke vanuit die Kaap was om ʼn soortgelyke aksie daar te hou.

[nggallery id=92]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.