Nederland se hoogste punt – of dit wat al lank as die hoogste punt beskou is en ‘n toeristeattraksie is, is toe al die tyd nie die hoogste punt in die land nie.
Die werklike hoogste punt lê darem net 60 meter daarvandaan. Toeriste neem al baie lank foto’s van hulself op wat hulle gemeen het die hoogste plek te wees – die Vaalserberg, 323 meter bo die hoogwatermerk in Amsterdam. Dit is nog nie bekend hoeveel hoër die nuutontdekte hoogste plek is nie, maar die owerhede verseker dat die uitkykpunt na die regte ligging verskuif gaan word, én dat dit geen Aprilgekstorie is nie.
Nog ‘n verleentheid is dat vasgestel is die bekende drielandenpunt daar digby, ook nie op die regte plek geleë is nie. Die punt waar Duitsland, Nederland en België se grense aan mekaar raak, is 30 meter van dié gewilde besoekpunt waar toeriste lank geglo het hulle het met een voet tegelyk in al drie lande gestaan.
Bronne: Trouw, Holland.com, www.drielandenpunt.nl