Foto’s: Kinders van die Wind-roos geregistreer en bekendgestel

Die Kinders van die Wind-roos

Die Kinders van die Wind-roos

Nog foto’s van die roos volg onderaan die berig. Kinders van die wind is aangewys as die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye en om dié liedjie te vereer en te verewig, is ʼn spesiale roos deur Ludwig’s Roses gekweek en geregistreer.

Die Kinders van die Wind-roos is op 26 Oktober by die bekendmakingsgeleentheid van Die Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye bekendgestel. Laurika Rauch, wat die liedjie bekend gemaak het, het by die geleentheid die roos gedoop met die nuwe naam deur sjampanje daarop uit te gooi.

“Ons wou graag die wenliedjie, Kinders van die Wind, op ʼn manier verewig,” het Susan Lombaard, bestuurder van Maroela Media, gesê. “Die roos het ‘n tydlose, klassieke vorm,” het Lombaard bygevoeg. “Die roosbos (Floribunda) groei nie hoër as heuphoogte nie, en dra ‘n groot aantal pienk rosies aan elke stingel. Die onopgesmuktheid, suiwer kleur en kleiner as gemiddelde grootte van die rose herinner aan die kinders, herinneringe en drome wat Koos du Plessis in die wenliedjie besing.” Klik hier om meer oor die veldtog en die wenliedjie te lees.

“Sover ons kon vasstel, is dit die eerste keer dat ʼn roos na ʼn liedjie vernoem word. Daar is al rose vernoem na verskeie sangers (soos Rina Hugo, Cora Marie ensovoorts), maar nog nie na ʼn liedjie nie,” sê Lombaard.

Kinders van die Wind-rose is by die bekendmakingsgeleentheid onder andere oorhandig aan Laurika Rauch, Karla du Plessis (Koos du Plessis se dogter) en Johan van Rensburg (paneelvoorsitter).

Twee Kinders van die Wind-roosplante word ook aan die FAK geskenk, om in die FAK-liedjietuin te plant.

Maroela Media bedank AfriForum, een van die borge van die Grootste Liedjie-veldtog, wat die registrasie van die roos finansieel moontlik gemaak het.

Die Kinders van die Wind-roos is geregistreer by die departement van landbou, en sal binne enkele dae tot twee weke by kwekerye regoor die land beskikbaar wees. Dit kan ook vanaf Ludwig’s Roses se webwerf bestel word.

Klik telkens op die foto om ‘n groter weergawe daarvan te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.