Foto’s: Kranslegging gedenk 30 jaar ná Kerkstraat-bom

Simon Riekert

AfriForum Jeug het Maandag in Pretoria se middestad ʼn kranslegging en ’n minuut van stilte gehou vir alle burgerlikes wat tussen 1980 en 1994 in ANC-terreuraanvalle gesterf het. Die geleentheid is gehou presies 30 jaar nadat die Kerkstraat-bom in 1983 19 mense se dood veroorsaak het.

Oorlewendes van die Kerkstraat-ontploffing, familie van slagoffers en ooggetuies het die plegtigheid bygewoon.

Simon Riekert, wat eerstehands die gebeure beleef het, het gesê: “Ek het oorkant die gebou gewerk waar die bom afgegaan het. Ek het die slag gehoor, daarna het dit soos hael geklink soos wat vensterskerwe alles getref het. Toe ek in die straat kom was daar net rook en mense wat rondgelê het.”

“Duisende onskuldiges, swart en wit, het die prys betaal van die ANC se wreedaardige aanvalle. Die geleentheid is nie net ’n aanklag teen die ANC se ongebalanseerde oorvertelling van die geskiedenis, waarin ANC-leiers as onbevlekte helde voorgehou word nie, maar ook ’n geleentheid waar diegene, wat in terreuraanvalle gesterf het, se lewens herdenk word,” het Charl Oberholzer, die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

Hy het gesê die ANC se donker geskiedenis word dikwels weggepraat, maar die werklikheid is dat talle families steeds sukkel om die wyse waarop hulle geliefdes vermoor is, te verwerk.

Oberholzer het bygevoeg dat hierdie aksie deel vorm van AfriForum Jeug se veldtog teen die verdraaiing van die geskiedenis.

[nggallery id=129]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.