Foto’s: Krejcir oorleef bisarre sluipmoordaanval

Radovan Krejcir Foto: www.lidovky.cz

Foto’s volg onderaan die berig. Iemand het Woensdag glo probeer om Radovan Krejcir, omstrede sakeman van Tsjeggië, te vermoor deur ʼn afstandsbeheerde vuurwapen naby sy motor te laat afgaan.

“Ek kon wegkom en dit het my lewe gered,” het Krejcir Woensdag gesê. “Iemand wil my doodmaak.”

Die voorval het Woensdagoggend by ʼn parkeerterrein van sy kantoor, oorkant Eastgate-winkelsentrum in Bedfordview, Johannesburg, plaasgevind.

Krejcir sê hy het harde klanke, “soos geweerskote”, gehoor wat uit ʼn motor gekom het, wat langs hom parkeer gestaan het. Die wapen is vermoedelik deur ʼn afstandsbeheerde toestel beheer, aangesien daar niemand in die voertuig was nie. “Ek het die motor nog nie vantevore gesien nie.”

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn dossier vir poging tot moord oopgemaak is. “Krejcir het by die perseel opgedaag en sy voertuig parkeer. Terwyl hy die parkeerterrein wou verlaat, het ʼn wapen agter uit die VW Polo-motor, wat oorkant sy motor parkeer gestaan het, gevuur,” het Dlamini gesê. “Projektiele het die voertuig aan die bestuurder se kant getref en die bestuurder se ruit en agterruit is ook getref. Daar is verskeie gate in die motor.”

Volgens Dlamini is dit nie bekend wie die toestel laat afgaan het of wie die voertuig op die perseel parkeer het nie.

Dlamini sê hulle het vasgestel dat die VW Polo in April in Brixton, Johannesburg, gesteel is. “Die voertuig is gister [Dinsdag] glo ook op dieselfde perseel deur ʼn onbekende persoon parkeer.”

Krejcir se naam is al aan ʼn aantal onopgeloste moorde verbind, maar hy is nog nooit aangekla nie. Hy is tans in ʼn hofgeding gewikkel om sy uitlewering aan die Tsjeggiese Republiek teen te staan.
[nggallery id=145]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.