Foto’s: Marlothpark-kameelperd uit septiese tenk gered

Foto: LookLocal Laeveld

ʼn Volgroeide kameelperdbul het Sondagaand in ʼn septiese tenk in Marlothpark, Nelspruit, ingeval en vasgesit.

Geen van die eiendomme in dié vakansiedorp is omhein nie en die kameelperd, wat sowat twee ton weeg, het op ʼn dekplaat getrap en toe ingeval, berig LookLocal Laeveld.

Die dier was glo vir ure lank hulpeloos vasgevang in die tenk.

ʼn Huishulp het munisipale bewaarders die volgende oggend in kennis gestel en Dr. Cobus Raath, direkteur en hoof-veearts van Wildlifevets in Nelspruit is ontbied. Die bewaarders het wag gehou oor die dier en seker gemaak dat nuuskierige lede van die publiek die dier nie verder onder spanning plaas nie.

Die veeartsspan het besluit om mannekrag te gebruik om die kameelperd uit die diep en onwelriekende put te trek. Die kameelperd was in staat om sy voorbene uit die tenk te lig.

Die span het besluit om die gebruik van verdowingsmiddels en ʼn hyskraan slegs as ʼn laaste uitweg te hou, aangesien kameelperde nie goed op verdowingsmiddels reageer nie.

Foto: LookLocal Laeveld

Die dier is uiteindelik, met behulp van wildbewaarders, sommige inwoners van Marlothpark en jong vroulike oorsese studente, met toue en bande uit die put getrek. Kundiges het die kameelperd se kop op só manier gehou dat sy liggaam veilig uitgetrek kon word. Die kameelperd se wonde is hierna met ʼn antiseptiese middel behandel.

Die grootste gevaar was beserings weens skoppe of die swaai van die bul se kop en nek.

Die dier het na ʼn ruk opgestaan en onseker die bos ingestap. Hy is ʼn paar minute later weer opgemerk toe hy Olifantstraat gekruis het.

Die plaaslike wildbewaarders sal die dier dophou vir enige verdere beserings wat moontlik mag opduik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.