Die media is Woensdag in die Vanderbijlpark-landdroshof verbied waar Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), verskyn het op aanklagte van roekelose of nalatige bestuur en dat hy die spoedgrens verbreek het.
Veiligheidswagte by die deur het aan die media gesê hulle is opdrag gegee om niemand in die hof toe te laat nie.
Die polisie het Malema deur ʼn agterhek by die hof ingelaat.
Hy het net vlugtig in die hof verskyn en die saak is tot 28 Februarie uitgestel.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het nog nie kommentaar gelewer oor die voorval nie.
Talle van Malema se ondersteuners het buite die hof gedans en sing. EFF-lede, geklee in rooi barette en T-hemde, het plakkate van Malema rondgeswaai terwyl hulle gesing het.
Malema is op 19 Desember in hegtenis geneem nadat hy op die N1 in die Vaal teen 215km/h in ʼn 120km/h-sone gery het. Hy is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Steve Hofmeyr is op dieselfde aand as Julius Malema in hegtenis geneem vir ʼn spoedoortreding. Hofmeyr het 169 km/h in ‘n 120 km/h-sone op die N4 gery en is op borgtog van R500 vrygelaat. Hy het op 23 Januarie weer in die hof verskyn en is ʼn boete van R10 000 opgelê. Sy rybewys is nie opgeskort nie. –SAPA