Foto’s: Media publiseer steeds Nkandla-foto’s

Voorblaaie van koerante op 22 November 2013

Voorblaaie van koerante op 22 November 2013

Jongste: Intussen het ‘n woordvoerder van die regering gesê die media het die opdrag “verkeerd verstaan”. Klik hier om meer te lees.

Foto’s volg onderaan die berig. Koerante het Vrydag ʼn uitdagende houding ingeneem teen ʼn opdrag van die kabinet, om nie meer foto’s van pres. Jacob Zuma se huis in Nkandla, KwaZulu-Natal te publiseer nie.

Beeld se voorblad is ʼn groot volkleurfoto van Nkandla met die byskrif: “Die verbode foto”.

The Times het ʼn lugfoto van Nkandla op sy voorblad publiseer met die byskrif: “So, neem ons in hegtenis” (“So, arrest us”). “Ons geld het daarvoor betaal, maar hulle wil nie hê ons moet dit sien nie,” is onderaan die foto geskryf.

The Star het ook ʼn foto van die opgraderings aan Nkandla op sy voorblad publiseer met ʼn rooi kruis bo-oor: “Kyk weg! Wat min. Cwele nie wil hê jy moet sien nie” (Look away! What Minister Cwele doesn’t want you to see”).

Die Cape Argus en Cape Times het ook die foto’s publiseer. Die Sowetan het die foto op bladsy 4 gepubliseer.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) het Donderdag gesê hy gaan nie aan Siyabonga Cwele, minister van staatsekuriteit, se waarskuwing ag gee om nie foto’s van Nkandla te publiseer nie. “Ons sal steeds die foto’s publiseer, omdat ons glo die publiek het ʼn geweldige belang daarby.”

Cwele het die media vroeër gewaarsku dat dit onwettig is om foto’s van Nkandla te publiseer. “Dit is ʼn onaanvaarbare sekuriteitsbreuk kragtens die Wet op Nasionale Sleutelpunte. Dit sal nie in enige demokrasie geduld word nie,’ het Cwele gesê.

Sanef sê dit is nie die bedoeling van die media om Zuma se sekuriteit in gedrang te bring nie. “Ons publiseer bykans op ʼn daaglikse basis ook foto’s van ander nasionale sleutelpunte soos die Uniegebou en die parlement.”

Die regering word gekritiseer dat hy R206 miljoen aan opgraderings by Nkandla spandeer het. ʼn Verslag deur die Openbare Beskermer sal binnekort afgehandel wees.

Die redakteurs het gesê die foto’s, wat gepubliseer is, is van ver af of uit die lug geneem om die omvang van die opgraderings aan te dui.

Business Day het die storie op sy voorblad gehad, maar nie foto’s van Nkandla gepubliseer nie.

Beeld het sy redes langs die foto gepubliseer. Die koerant wil weet wat voormalige pres. Nelson Mandela se reaksie sou wees op die edik dat die foto’s nie meer gepubliseer moet word nie. Daar is ook twee aanhalings van Mandela van 20 jaar gelede oor die belangrikheid om persvryheid te beskerm.

Beeld publiseer vandag wéér ’n Nkandla-foto uit protes teen pogings van Zuma se binnekring om hom te beskerm teen moeilike vrae. Ons glo nie dit is onwettig om dit te doen nie.”

Die koerant sê die apartheidsjare se Wet op Nasionale Sleutelpunte kon dit nooit ten doel gehad het om ʼn sittende president teen ʼn verleentheid te beskerm nie.

Die Times het in ʼn redaksionele artikel gesê hy stem saam met Sanef en sal voortgaan om die foto’s te publiseer. “Pogings om ons te stop sal ons plig as waghonde van demokrasie verraai. Besef die ministers dat Google Earth, waartoe enigiemand met internet toegang het, ook na foto’s van Nkandla kan kyk uit enige plek in die wêreld?”

Die Daily Sun se hoofopskrif lees: “Moet jy toegelaat word om dié foto te sien?” Die foto het egter nie na die Nkandla-woning verwys nie, maar ʼn groot volkleurfoto van ʼn man wat in Khayelitsha doodgeslaan is. Die ombudsman van die media het vandeesweek beveel dat die koerant ʼn verskoning op sy voorblad moet publiseer oor twee soortgelyke foto’s wat glo die mediagedragskode se maatreëls verbreek het.

Die Daily Sun beoog om appèl aan te teken teen die uitspraak en die sanksie. Die koerant het op die sesde bladsy ʼn storie, maar nie ʼn foto nie, van Nkandla gepubliseer.

Klik telkens op die foto om ‘n groter weergawe daarvan te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

HP ·

Nou toe nou…….gaan kyk op google earth, daar sien mens amper meer as in enige koerant. Gaan jy nou google ook stop!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.