Foto’s: Meer as ‘n miljoen betoog teen wêreldbeker

Een van die betogers waai sy Brasiliaanse vlag in Sao Paulo, Brasilië

Foto’s oor die betoging volg onderaan die berig. Dilma Rousseff, president van Brasilië, het ʼn noodvergadering vir die kabinet belê nadat sowat 1.25 miljoen mense landwyd oor beter staatsdienste betoog het.

Een betoger is in dié protesaksie oorlede. Talle inwoners betoog teen die buitensporige uitgawes wat vir die 2014 Sokker Wêreldbekertoernooi en 2016 Somer Olimpiese Spele, wat in dié land aangebied word, aangegaan word.

Polisiebeamptes het traangas en rubberkoeëls in Rio gevuur om die skare te beheer nadat hulle glo die beamptes met klippe begin bestook het.

“As jy veilig wil wees moet jy nie na Rio de Janeiro toe kom nie. Moenie die wêreldbeker kom bywoon nie, want as jy die land kom besoek sal jy hierdie regering help wat op ons skiet,” het Rodrigo Neves (20), een van die betogers, gesê.

Meer as 1.25 miljoen mense het Donderdag in 100 stede aan die betogings deelgeneem in dié land wat deur sowat 194 miljoen mense bewoon word.

ʼn 18-jarige man is dood nadat ʼn motor hom omgery het terwyl hy in die suidoostelike stad, Ribeirao Preto, betoog het.

Betogers het glo ook ʼn voertuig van die SBT-televisiestasie aan die brand gesteek, aangesien talle betogers glo dat die hoofstroommedia nie oor die ware grootte en omvang van die betogings berig nie.

Van die betogers het glo ook die voertuie van FIFA-beamptes met klippe bestook. FIFA is sokker se beheerliggaam.

Sosialemedia-netwerke is glo die sleutel tot die organisering van die massa betogings, met betogers wat die leuse “It’s more than just 20 cents” [Dis meer as net 20c], gebruik. Dié leuse is ʼn verwysing na die verhoging in bustariewe wat vir die onderskeie geleenthede aangekondig is.
[nggallery id=136].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.