Foto’s: Michael Jackson se huis te koop

Die weelderige Los Angeles-huis waar Michael Jackson gesterf het, is tans in die mark vir $23.9 miljoen, en ʼn bekende stel belang om dit te koop, luidens die eiendomsagente en die TMZ-webwerf.

Luidens die eiendomsagentskap se webwerf word die 7-slaapkamer, 13-badkamer eiendom as ʼn “elegante en gesofistikeerde Franse kasteel” beskryf, en het ook sy eie rolprentteater, ʼn gimnasium en ʼn swembad. “Die landgoed bied ʼn glansryke teater vir rolprentvertonings, ʼn indrukwekkende wynkelder en proekamer, hysbak, omvangryke spa met gimnasium, ʼn elegante gastehuis, groot swembad en tuin.” Die huis, wat in 2002 in die Holmby Hills-distrik wes van Los Angeles gebou is, beslaan meer as 1 580 vierkante meter leefspasie met 12 werkende kaggels, en is geleë in ʼn “welige landskap” van sowat 0.5 hektaar. TMZ berig dat die eiendom Maandag te koop aangebied is en dat ʼn “bekende persoon” dit glo Donderdag sal besoek.

Eiendomsagent Mauricio Umansky, hoof van Die Agentskap in Beverly Hills sal die eiendom slegs aan ernstige kopers wat vooraf goedgekeur is, skou. Dit beteken dat kopers dus die fondse moet hê om die eiendom aan te skaf. Foto’s op die webwerf sluit ʼn bed in ʼn slaapkamer in waar die koning van Pop moontlik op 25 Junie 2009 op die ouderdom van 50 gesterf het. Die eiendomsagentskap het nie dadelik reageer of die bed wel dieselfde bed is nie. [Die foto is intussen van die webwerf verwyder.]

Die huisinhoud, wat Jackson gehuur het, is in Desember by ʼn veiling verkoop, alhoewel die bed en die kopstuk, op versoek van die Jackson-familie, nie by dié items ingesluit was nie. Jackson se persoonlike geneesheer, Conrad Murray is in November tot vier jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op manslag van die ster wat aan ʼn oordosis van die narkotiese middel, propofol, gesterf het. Die sanger, wat in Los Angeles besig was om aan ʼn reeks vertonings vir Londen te werk, is onder andere met dié medikasie behandel om hom met sy kroniese slaaploosheid te help.

[nggallery id=34]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.