Foto’s: Minister voeg daad by woord

Minister Robin Carlisle

Robin Carlisle, minister van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het Maandag saam met Terry Debrick, ʼn inwoner van Kaapstad, ʼn klag van roekelose en nalatige bestuur by die Paarlse polisie teen WC Douwland, die eienaar van ʼn rooi Toyota Corolla gaan lê.

Debrick, wie se vrou Mary bestuur het, het foto’s van die bestuurder op kamera vasgelê terwyl hy in Du Toitskloof ʼn ander voertuig oor ʼn sperstreep verbygesteek het, het Politicsweb berig. Douwland het in die stadium glo reeds ook die Debricks onwettig verbygesteek. Die vier foto’s (sien hieronder) is bewys dat die bestuurder van die rooi motor op ʼn skerp draai ʼn wit Mercedes verbysteek. “Ek het al verskeie kere ʼn beroep gedoen op lede van die publiek om enige voorvalle van roekelose bestuur aan te teken en aan te gee en ek is baie dankbaar dat die Debricks na vore gekom het,” het Carlisle gesê.

Debrick het ʼn speurder by die polisiestasie in Paarl in kennis gestel dat hy en sy vrou van Robertson op pad terug was Kaapstad toe, toe die voorval omstreeks 16:30 op 6 Mei 2012 plaasgevind het. Debrick sê sy vrou Mary het Carlisle se beroep op motoriste gehoor en toe besluit om die geval aan te gee.

Die ministerie het die foto’s gebruik om die eienaar se besonderhede van die E-Natisstelsel te bekom en het Maandag die besonderhede aan die polisie verskaf. Carlisle het motoriste aangeraai om die presiese datum, tyd en plek aan te teken voordat hulle voorvalle aanmeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.