Foto’s: Nieu-Seeland geskud en geskud

Foto: ABClocal

Die aardbewing van 6,5 op die momentmagnitudeskaal wat Nieu-Seeland Vrydagoggend geskud het, is reeds deur sowat 11 betreklike sterk naskokke gevolg. Krag- en telefoononderbrekings het voorgekom, en rotsblokke is glo ook losgeruk.

Die aardbewing het in die noorde van die Suideiland voorgekom, maar was net 80km van die hoofstad, Wellington, op die noordelike eiland. Geboue is ontruim.

Dit is in dieselfde omgewing wat onlangs ook seismies aktief was en ‘n aardbewing veroorsaak het wat onder meer tot kragonderbrekings in Wellington gelei het. Hoewel geboue oor groot dele van Nieu-Seeland “soos jellie geskud het” is geen berigte van groot skade nog ontvang nie. Die episentrum van die aardbewing was betreklik vlak, sowat 10km onder die grond. Volgens De Standaard is die skuddings van Christchurch in die suide tot Auckland in die noorde gevoel.

Hoewel hierdie skudding aansienlik sterker was as die M6,3-skudding wat Christchurch in Februarie 2011 getref het en 185 lewens geëis het, was die jongste skudding nie so vlak en naby ‘n bewoonde gebied nie.

Die skudding was ook nie die sterkste skudding die afgelope paar dae nie. Op 13 Augustus het ‘n skudding van M6,6 in Colombia voorgekom.

Benewens ‘n ligte aardbewing in Oostenryk, was daar nie ander uitstaande aardbewings onder die sowat 200 beduidende aardbewings die afgelope week wêreldwyd nie.

Foto:Newstalkzb

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.