Foto’s: Nog vloede verwag, talle gered

Die departement van waterwese het Donderdag gewaarsku dat nog vloede kan voorkom by mense wat stroomaf bly van damme in Mpumalanga, Swaziland en suid van Mosambiek.

ʼn Woordvoerder van die departement, Linda Page, sê ʼn rampbestuurspan is tans in Mpumalanga om die owerheid te help om basiese dienste te verskaf aan gemeenskappe wat deur die vloede geraak word. Page sê die Komati- en Krokodilriviere het aansienlik gestyg. Sy sê die Driekoppiesdam loop oor terwyl die Magugadam amper 100 persent vol is. “Gemeenskappe wat stroomaf woon van die damme word gewaarsku om na hoër grond te beweeg vir hulle eie veiligheid. Die Olifantsrivier sal na verwagting teen vroeg Vrydagaand sy vloedpiek bereik. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê intussen daar is ʼn 30 persent kans vir reën en donderstorms oor die volgende 24 uur.

SANparke sê intussen dat die grootste gedeelte van die Krugerwildtuin weer oopgestel is. By Krokodilbrug is die rivierwaterpomp weggewas en word daar tans ʼn tydelike pomp geïnstalleer terwyl daar reeds ʼn tydelike waterpomp by Laer Sabie geïnstalleer is. Die Tshokwane-piekniekarea, Balule, Talamati, Biyamiti, Tamboti, Maroela en Shimuwini is egter steeds gesluit weens die vloede. Alle grondpaaie suid van die Letabarivier is ook steeds gesluit. SANparke sê 70 gaste en 10 personeellede is reeds by verskeie kampe ontruim. Intussen het die weermag reeds meer as 200 mense in die Hoedspruit-area ontruim en na veiligheid geneem. Die verspoelde Sandspruitbrug buite die dorp is volgens berigte tydelik herstel en kan kos en ander noodvoorraad nou makliker vervoer word.

Het jy al die video’s gesien van die vloede? Klik hier.

[nggallery id=20]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.