Foto’s: NSRI op soek na boot se passasiers

Die NSRI is op soek na die eienaar en passasiers van dié rubberboot wat Saterdag 22 Desember 2012 sowat vier seemyl suid van Kaapstad opgespoor is. Foto: NSRI

Nog foto’s volg onderaan die berig.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is op soek na die eienaars van ‘n rubberboot wat Saterdagoggend omstreeks 07:00 naby Kaappunt opgespoor is.

“NSRI-vrywilligers van Simonstad is ontbied nadat die rubberboot met geen passasiers nie, sowat vier seemyl suid van Kaappunt opgespoor is,” het Darren Zimmermann, stasiebevelvoerder van NSRI Simonstad, gesê.

Die 4.2m rubberboot het ‘n sitplek in die middel en ‘n grys romp met geel strepe. Die boot het twee Yamaha 40 perdekrag-motors wat in ‘n baie goeie toestand is en twee duiksakke met duiktoerusting en drie duiksilinders. Die naam “H. Landers” is op een van die duiksilinders geskryf.

“Die rubberboot is intussen na die hawe in Simonstad getou en aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek,” het Zimmermann gesê. “Niemand is nog as vermis aangemeld nie en dit is nie duidelik wat van die passasiers geword het nie.”

Die NSRI doen ‘n beroep op enigiemand wat die boot herken om met die polisie in Simonstad by 021 786 8640 in verbinding te tree of om die NSRI-noodlyn by 021 449 3500 te skakel.

“Ons doen ‘n beroep op die publiek vir meer inligting sodat ons kan bevestig of die passasiers veilig is, of vermis word,” het Zimmermann bygevoeg.

[nggallery id=100]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.