Foto’s: Nuwe wêreldbraairekordpoging onderweg

BraaiBoy by SuperSportpark. Foto's: Phillip Bruwer

Donderdagoggend klokslag om 08:30 was BraaiBoy se kole gereed vir die eerste vleisie om gebraai te word om te poog om die huidige Guinness-wêreldrekord vir die langste aaneen braai te verpletter. BraaiBoy, oftewel Gareth Daniell van Pretoria, gaan poog om die huidige braairekord, wat tans op 32 ure staan, so te sê te verdubbel na 60 ure. Die poging is onderweg by SuperSportpark in Centurion.

BraaiBoy het bekendheid verwerf nadat hy op 17 April 2009 besluit het om elke dag daarna te braai. Sedertdien het hy nog nie een dag gemis nie en is hy boonop ver van moeg vir braaivleis af.

Maroela Media het twee ure nadat BraaiBoy die eerste vleisie op die kole gegooi het, by hom gaan inloer.

“Sover gaan alles goed en vorder alles volgens plan. Ek is gereed om die bul by die horings te pak,” het hy gesê.

Volgens BraaiBoy gaan die grootste uitdaging wees om vir die tydperk wakker te bly. “Ek het verskeie strategieë om wakker te bly. Ek het spanne vriende en ondersteuners wat om die beurt gaan kom om my geselskap te hou, en dan die belangrikste is om die gestel aan die gang te hou deur verskillende kosse te eet wat strek van lemoene en donker sjokolade tot kruie soos Siberiese ginseng, vir energie.”

BraaiBoy se eerste mikpunt is Vrydag om 18:00 wanneer hy dan die huidige rekord tydpunt gaan bereik. “Daarna gaan ek deurdruk tot Saterdag om middernag.”

BraaiBoy en sy span het nagenoeg 100 sakke houtskool, 200 braaipakkies met vyf verskillende vleissoorte in en slegs twee stukkies blits, want die kole gaan heeltyd aan wees. Hy word vir elke uur wat hy braai, ʼn vyf minute badkamerbreuk toegelaat. Dié tyd kan opgehoop word. Verder moet hy die heeltyd agter die kole staan en sorg dat daar voortdurend vyf verskillende kosse op enige gegewe tyd op die braaier is. Alle kosse moet van rou af gaargemaak word en geen opwarming word toegelaat nie. Alle kos moet geëet word ná dit gaargemaak is.

Die hele poging word 24 uur lank op ʼn kamera opgeneem en onafhanklike beamptes is ook op die perseel om die verloop te monitor. ʼn Beampte van die Guinness World Book Of Rekords van Brittanje gaan Saterdagoggend by BraaiBoy aansluit en by hom bly tot om middernag, wanneer Suid-Afrika gaan weet of hy ‘n nuwe braaikoning kan kroon.

Op die vraag wat hom aan die gang gaan hou het BraaiBoy geantwoord: “Deursettingsvermoë en wilskrag om die rekord te laat spat.” Hy het ondersteuners genooi om te kom inloer en te help eet aan die kos.

[nggallery id=64]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.