Foto’s: Ontploffings by Boston-marathon

Die ontploffing by die Boston-marathon in Amerika Foto: Twitter

Foto’s en ‘n video volg onderaan die berig.

Twee ontploffings het die Boston-marathon in Amerika Maandag tot stilstand gedwing.

Dit is nog nie dadelik duidelik wat die ontploffing veroorsaak of die aantal of omvang van beserings is nie. Bebloede omstanders is na die mediese tent, wat vir moeë deelnemers opgestel is, geneem. Die plaaslike media berig dat daar minstens twee mense dood en 23 beseer is.

‘n Polisiebeampte van Boston is met ‘n bloeiende beenbesering met ‘n rolstoel van die toneel af weggeneem. “Daar is talle mense beseer,” het een man, wie se wedrennommer hom as Frank Deruyter van North Carolina identifiseer, gesê. Hy is nie beseer nie, maar beamptes van die wedren het een vrou, wat nie lyk of sy aan die wedren deelgeneem het nie, na die mediese tent geneem.

Sowat drie ure nadat die wenners die eindstreep oorgesteek het, kon ‘n harde ontploffing aan die noorde kant van Boylstonstraat gehoor word, net voor die fotobrug wat die eindstreep aandui. Nog ‘n ontploffing is ‘n paar sekondes later gehoor.

“Daar is mense wat baie, baie bloederig is,” het Laura McLean, ‘n deelnemer van Toronto, wat in die mediese tent vir ontwatering behandel is, gesê.

Cherie Falgoust het vir haar man gewag wat aan die wedren deelneem. “Ek het my man enige oomblik verwag,” het Falgoust gesê. “Ek weet nie in watter gebou dit is nie. Dit het net ontplof. Dit was ‘n groot bom, ‘n harde knal, en toe glas oral. Iets het my kop getref. Ek weet nie wat dit was nie. Ek het gekoes.”

Kragtens die noodplan is deelnemers wat nog nie die wedren voltooi het nie, na Commonwealthlaan, na ‘n bymekaarkomplek vir gesinne, herlei.

Die nabygeleë Prudential Tower, die stad se tweede hoogste gebou met ‘n winkelsentrum op die grondvlak, en die luukse Mandarin Oriental-hotel is ontruim.

Die wedren het begin met 26 sekondes van stilte ter ere van die slagoffers van die skietery by ‘n skool in Connecticut. Minder as twee ure later het die voorste hardlopers die 26.2-myl (42km) merk oorgesteek.

Die jaarlikse marathon vind op Patriotdag plaas, ‘n publieke vakansiedag wat die ontruiming van Boston deur die Britse in die Amerikaanse revolusie herdenk. Daar is jaarliks sowat 500 000 toeskouers en sowat 20 000 deelnemers.

Alle foto’s is deur Twitter-gebruikers opgelaai.

[nggallery id=117]
http://youtu.be/BzDT6jnily4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.