Foto’s: Optog teen plaasmoorde

Foto deur Ernst Roets op Twitter gelaai

AfriForum, plaaslike bekendes en die families van plaasmoord-slagoffers het Saterdag aan ‘n optog na die polisieminister se kantoor deelgeneem.

Die betogers het ‘n memorandum voorgelees wat eis dat die regering plaasmoorde sal prioritiseer as deel van die veldtog deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit. Nathi Mthethwa, die minister van polisie, was egter nie beskikbaar om die memorandum te ontvang nie, en het ook nie ‘n verteenwoordiger gestuur om die memorandum namens hom te ontvang nie.

Foto’s van die vermoorde familielede is uitgestal en die families is deur slagoffers wat plaasmoorde oorleef het, bygestaan. Steve Hofmeyr, Chris Chameleon en Adam Tas is van die bekendes wat daar was om hul steun aan die veldtog toe te sê.

“Hier is mense, maar minder as by ‘n goeie Chameleon-konsert. Solank mense se vermaak belangriker as hul lewens is, bly Rome staan,” het Chris Chameleon tydens die optog getwiet.

Die Pretoriase hooggeregshof het Donderdag AfriForum toestemming gegee om die optog te hou nadat die polisie ministerie gedreig het om dit as ‘n onwettige betoging te verklaar.

“Plaasmoorde is nie net ‘n krisis nie, dit is katastrofies,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Roets sê die boere bly in unieke omstandighede in veraf gebiede waar die polisie se reaksietyd stadig is. “Boere word in groot getalle vermoor en selfs gemartel terwyl die regering en die departement van polisie weier om te erken dat daar ‘n krisis is,” het Roets gesê.

Beeld het Saterdag berig dat die 94-jarige Maria Barnard met ‘n warm pan verbrand is en haar 74-jarige seun, Hekkie, in die aanval op hul plaas Geluk buite Brits in Noordwes vermoor is. Haar 62-jarige seun, Nico Barnard is in die maag geskiet en Nico jr. (16) is in sy kop gesteek.

[nggallery id=96]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

joyce ·

Dankie vir almal wat daar was ,stadig maar seker begin ons opstaan teen al die onreg teen ons

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.