Foto’s: Pa en seuns veilig ná seiljag strand

Foto: NSRI

Chris van der Nest en sy twee seuns is veilig nadat hul seiljag Sondag naby Gordonsbaai gestrand geraak het.

“Die vrywilligerspan van NSRI Gordonsbaai is Sondag om 18:43 ontbied nadat ʼn seiljag naby Harbour Island-hawe in Gordonsbaai gestrand geraak het,” het Francois Stevens, stuurman aan diens van die Gordonsbaai Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI)-eenheid, gesê. “Die 19-voetlange seiljag Thuli was sowat 20 meter van die hawemuur tussen die kloktorings en rotse. Die seiljag was besig om vol water te loop.”

Kaptein Van der Nest en sy twee seuns, ʼn 13-jarige en vermoedelik ʼn vyfjarige, het reeds in die vlak water gespring en het na die strand geswem. Hulle was nie beseer nie.

“Die seiljag was tussen die kloktorings geanker. Dit lyk of hulle oppad uit was op die see, maar weens die wind en seetoestande het die kaptein moontlik besluit om terug te draai. Ons vermoed dat ʼn golf oor die enjin gespoel het en die motor toe gestaak het,” het Stevens verduidelik. “Die kaptein het die anker laat sak om te verseker dat die jag nie deur die gety in die hawemuur vasgedruk word nie.”

Die NSRI het hul diepseereddingsvoertuig Jack Riley ontbied om die seiljag veilig na die hawe terug te besorg. “NSRI-reddingswemmers is in die water ontplooi en hulle het ʼn toulyn aan die seiljag vasgebind en dieper daarmee in die see ingeswem waar die Jack Riley die vaartuig na die hawe kon sleep.

Die eienaar sal die seiljag herstel wat teen die kloktorings en rotse geskaaf het.

“Die operasie was Sondagaand teen 20:25 afgehandel,” het Stevens bygevoeg.

Alle foto’s deur die NSRI verskaf.

[nggallery id=95]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.