Foto’s: Pretoria vereer Olimpiese helde

Foto's: Phillip Bruwer

ʼn Dag na die openingseremonie van die Paralimpiese Spele in Londen, het Pretoria se burgemeester vanjaar se Olimpiese Spele-medaljewenners uit dié stad vereer.

Die wenners, asook spanmaats en verskeie rolspelers is Donderdag tydens ʼn spesiale ontbyt ontvang waarna hulle aan die Tshwane-metroraad voorgestel is.

“Om vir die Olimpiese Span gekies te word was al ʼn groot eer en om boonop nog te wen, wys dat julle die beste van die beste is,” het burgemeester Kgosientso Ramokgopa tydens die geleentheid gesê. “Die stad se leuse is Igniting Excellence en dít wat julle vir die stad, die land en kontinent gedoen het, is ʼn toonbeeld hiervan. Julle is ware kampioene en ons bedank julle en die verskeie rolspelers wat ʼn aandeel gespeel het in julle sukses,” het hy gesê.

Atlete van Pretoria het tydens die Spele vir die meeste medaljes vir die Suid-Afrikaanse span gesorg en Suid-Afrika het uiteindelik 24e posisie op die ranglys beklee.

Die Pretorianers wat medaljes tydens die Spele ontvang het was Cameron van der Burgh wat die land se eerste goue medalje gewen het in die 100 m-borsslag; die Suid-Afrikaanse roeispan (Sizwe Ndlovu, Matthew Brittain, John Smith en James Thompson) wat ʼn goud ingepalm het; Caster Semenya wat Suid-Afrika se tweede silwer medalje in die 800 m vir vroue gewen het; en Bridgitte Hartley wat die land se enigste bronsmedalje in die K1-kajakren oor 500 m vir vroue gewen het. “Pretoria is die stad van kampioene en op hierdie onvergeetlike dag erken ons julle as kampioene,” het Ramokgopa gesê.

Cameron het die burgemeester bedank vir die ondersteuning. Hy het sy kort toespraak afgesluit deur skertsend vir die burgemeester te vra of ʼn straatnaam na hulle vernoem gaan word.

[nggallery id=72]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.