Foto’s: Sementvragmotor beland bo-op kar in Pretoria-Oos

Een persoon is dood en drie ander beseer toe ʼn sementvragmotor Woensdagmiddag omgeslaan en bo-op ʼn motor in Garsfonteinweg in Pretoria beland het.

Die voorval het net ná 13:00 in Pretoria-Oos plaasgevind. Die sementvragmotor het bo-op een motor beland en ʼn tweede motor getref. “Die motor onder die vragmotor lyk soos ʼn Volkswagen Polo sedan. Die voertuig is heeltemal platgedruk onder die gewig van die vragmotor,” het Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24 gesê.

Die voorkant van die vragmotor het die bestuurderskant van ʼn Toyota Camry getref, en die bestuurder van dié motor het op die toneel rondgeloop toe paramedici opgedaag het. Die persoon het wonderbaarlik slegs geringe beserings opgedoen.

Swaardiensvragmotors is na die toneel ontbied om die sementvragmotor van die wrak te verwyder.

Dit is nog nie duidelik waarom die sementvragmotor omgeslaan het nie.

Die verkeer word erg beïnvloed deur die ongeluk en motoriste word aangeraai om van alternatiewe roetes gebruik te maak en Garsfonteinweg naby die kruising met Solomon Mahlangurylaan (Hans Strijdomrylaan) te vermy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Werner Swiegers ·

hoe is dit nie duidelik hoe die sement trok omgeslaan het nie? hoeveel moontlikhede is daar tog nou?

OompieKedoompie ·

Daar is gereeld ongelukke by hierdie kruising waarby vragmotors betrokke is. Heel moontlik nie voldoende remme teen die afdraende af gehad nie en toe die draai probeer vat.

Hendrik Murray ·

Die oorledene in die VW was ‘n dierbare vriend van my suster, baie groot skok vir ons almal hy was nog so jonk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.