Foto’s: Só word ʼn olifant se tand getrek

Waarskuwing – die foto’s is grafies van aard en mag sensitiewe lesers ontstel

Twee dokters van die Nasionale Dieretuin in Pretoria is na Pole ontbied om te help om ʼn ingewikkelde taak te verrig – om ʼn olifant se tand te trek.

Die Poznan-dieretuin het dr. Adrian Tordiffe, die dieretuin se veearts en ʼn kenner in narkose, en dr. Gerhard Steenkamp, ‘n veeartsenykundige tandarts, genooi om Ninio, ʼn 14-jarige Afrika-olifantbul, se tand te trek. Ninio het in 2009 sy tand gebreek waarna die dieretuin se personeel die seerplek behandel het.

“Ninio het egter in 2012 weer dié tand beskadig en die tand het infeksie begin gekry. Dit het baie pyn en swelling in sy gesig veroorsaak,” het Angeliné Schwan, woordvoerder van die dieretuin, Donderdag gesê.

Die dokters moes Ninio op drie verskillende fases, sedert hy infeksie gekry het, besoek en behandel om die tand heeltemal te trek. Die laaste prosedure het omstreeks drie ure lank geduur, waarin dr. Steenkamp daarin kon slaag om die tand los genoeg te kry om dit in twee dele met ʼn kurk uit te trek.

“Die tand was misvorm deur die langdurige infeksie, maar al die dele is suksesvol uitgehaal. Die tand het ʼn diameter van 20cm gehad. Dit is die grootste tand (in diameter) wat ooit van ʼn lewendige olifant getrek is,” het dr. Tordiffe gesê.

Volgens Schwan het Ninio volkome herstel ná die operasie en binne ʼn paar ure weer begin eet.

Die prosedure is deur die BBC afgeneem en word in 2014 op die program Operation Wild uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lindie lamprecht ·

Siestog! Nou is hy gelukkig verlos van sy pyn! Goeie werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.