[Foto’s] Stockholm-aanval: Vier dood, talle beseer

Foto: Fredrik Sanberg/TT News Agency via AP.

Vier mense is dood en talle beseer toe ʼn gekaapte vragmotor Vrydagmiddag deur ʼn skare en toe in ʼn inkopiesentrum in Stockholm, Swede, ingejaag het.

Daar word vermoed dat dit ʼn terreuraanval was. Stefan Hector, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is tot op hede een verdagte in hegtenis geneem in verband met die voorval.

Die vragmotor is by die Spendrups-bierbrouery gesteel deur ʼn gemaskerde man. ʼn Woordvoerder van dié brouery het gesê die man het in die vragmotor gespring net nadat die bestuurder uitgeklim het.

Een van die plaaslike koerante, Aftonbladet, het vroeër berig dat ʼn man met geringe beserings in Märsta in hegtenis geneem is nadat hy glo verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar het.

Stefan Löfven, eerste minister van Swede, het gesê alle aanduidings is dat dit ʼn terroriste-aanval was. “Ons weet nie of hierdie ʼn geïsoleerde aanval was en of ons nog kan verwag nie.”

Video’s wat op sosiale media versprei word wys hoe die vragmotor in Drottninggatan-straat afjaag terwyl mense skarrel om uit sy pad te bly. Die vragmotor het in vlamme uitgebars toe dit in die Ahlens-inkopiesentrum ingejaag het. Die sentrum is in die besige sakedeel van die stad, wat ook heelwat toeriste lok.

“Dit was aaklig, daar was so baie bloed. Mense het oral gelê,” het ʼn ooggetuie gesê.

Die hoof ondergrondse treinstasie en talle omliggende strate is daarna gesluit.

Die parlementsgebou wat verder af in Drottninggatan-straat is, is beveilig en deur gewapende wagte beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.