ʼn Vrou het verdrink en nog ʼn vrou word vermis nadat die Kaap die naweek gesteier het onder swaar reën en kitsvloede.
Kol. Thembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die twee vrouens het ʼn laagwaterbrug in Jonkershoek, Stellenbosch met hul motor probeer oorsteek toe die voertuig meegesleur is. Hy sê die oorledene se liggaam is in die motor gevind. Die bestuurder van die motor word intussen steeds vermis.
Die Vergelegen Mediclinic in Somerset-Wes is Vrydagaand inderhaas ontruim toe water die hospitaal begin binnevloei het. Nagenoeg 129 pasiënte is nabygeleë hospitale geneem. Viertrekvoertuie moes inderhaas ingespan word. Klik hier om meer te lees.
Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuur-afdeling, sê meer as 18 000 mense is deur die wydverspreide vloede geraak. Die gebiede wat die ergste geraak is sluit in: Delft, Faure, Vishoek, Gugulethu, Houtbaai, Khayelitsha, Kraaifontein, Kuilsrivier, Macassar, Phillippi, Scarborough, Somerset-Wes, Strand en Vahalla Park. Solomons-Johannes sê die swaar reën het modder- en rotsstortings tot gevolg gehad langs bergagtige gebiede. Hy sê daar is ook kragonderbrekings in verskeie areas aangemeld.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê intussen dat daar nog reën in dele van die Wes-Kaap verwag word. Reën word voorspel vir George, Riversdal, Hermanus en Oudtshoorn.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Dit is omtrent erg. Ek bid almal wat geraak is deur die reen sterkte toe. Daar is verseker baie groot skade aangerig.
Dit is erg shame voel so jammer vir die mense