Die staat het die Steenkamps se familielede vooraf gewaarsku dat die foto’s grafies van aard is en hulle moontlik kan ontstel. Regterpresident Frans Kgomo het die hofverrigtinge vlugtig uitgestel om die familielede kans te gee om te besluit of hulle in die hof wil bly terwyl die foto’s vertoon word. Een van die foto’s wys ʼn man wat op sy maag lê. Hy het ʼn blou hemp aan en daar is ʼn bloedplas op die vloer langs hom. ʼn Ander foto wys ʼn vrou in ʼn groen top en blou kortbroek wat op haar sy lê. Die foto’s het deel uitgemaak van kol. Sietze Albertse, ʼn kenner van misdaadtonele, se getuienis. Albertse het verduidelik van nuwe tegnologie waarvolgens ʼn 360° foto van ‘n misdaadtoneel saamgestel kan word. Willem Coetzee, die minderjarige seun se regsverteenwoordiger, het egter daarop gewys dat die foto’s gemanipuleer kan word. Albertse het toegegee dat dit die geval is. Die saak is tot Dinsdag uitgestel.
Die seun het vroeër Maandagoggend onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom. Hy staan tereg op drie aanklagte van moord, een van verkragting en een van regsverydeling.